100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Brugemeester onder padsterftes in Mpumalanga

Written by on January 3, 2022

Die burgemeester van Emalahleni-munisipaliteit, Linah Malatjie, het gisteraand saam met haar man, Esau, verongeluk.
Hulle was om ongeveer 22:30 tussen KwaMhlanga en Witbank onderweg, toe hulle in ‘n trompop-botsing betrokke was. Hulle het later in die hospitaal aan hul beserings beswyk.
Die premier van Mpumalanga, Refilwe Mtshweni-Tsipane, het haar medelye aan die familie betuig.
Sy het Malatjie se ervaring besing en haar as ‘n mentor beskryf. Sy het ook geloof vir haar leierskap en passie vir die jeug en gemeenskapsontwikkeling.
Malatjie was voorheen munisipale bestuurder en later burgemeester van Nkangala-distriksmunisipaliteit. Die premier sal die familie vandag besoek.
Die LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, Vusi Shongwe, het ‘n beroep gedoen op motoriste om versigtig te ry op nat paaie.
Dit nadat vier mense gistermiddag dood is in ‘n kopbotsing tussen ‘n ligte afleweringsvoertuig en sedan op die R38 naby Hendrina.
Al vier was passasiers in die sedan en sluit ‘n kind in. Beide bestuurders is ernstig beseer.
‘n Woordvoerder vir die departement, Moeti Mmusi, sê hulle glo een van die bestuurders het beheer verloor weens die nat toestande. Die amptelike oorsaak van die ongeluk word ondersoek.
Die polisie het mense ook gewaarsku om versigtig te wees by toeriste-aantreklikhede. Dit na die duikeenheid gister die liggaam van ‘n 35-jarige man uitgeduik het wat op Nuwejaarsdag verdrink het by Lisbon-waterval in Graskop.
Volgens polisiewoordvoerder, kapt. Gugu Phiri, het hy na bewering geval en gegly.

‘n 23-jarige man is deur die polisie doodgeskiet tydens ‘n sakeroof naby Tonga Donderdag.
Nog ‘n verdagte is aangekeer. ‘n Derde het gevlug. Kontant en lugtyd is gesteel.
Bongani Mahlangu (23) het Vrydag in die Nkomazi-landdroshof verskyn en sal môre formeel vir borgtog aansoek kan doen.
Volgens Phiri ondersoek die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) die skietery.


×