100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Bogemiddelde reënseisoen in die Laeveld verwag

Written by on October 6, 2020

Die Laeveld het die afgelope paar weke baie goeie reënval ervaar.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) sê dit is te danke aan ‘n La Niña-stelsel en is nie regtig ongewoon vir hierdie tyd van die jaar nie.
“Wanneer ons wissel tussen seisoene, soos van winter na somer of van somer na winter, sien ons ‘n groter kans vir reënvalstelsels om deur te beweeg,” verduidelik Edward Engelbrecht, ‘n weervoorspeller by die weerdiens.
Hy voeg by dat mense in somerreënvalstreke hierdie jaar wel ‘n bogemiddelde reënseisoen kan verwag.
Inwoners het die afgelope paar dae hoë neerslag ervaar, veral Maandagaand.
Hulle het op die Facebook-groep “Laevelders” aangedui wat hulle tot dusver gemeet het.
In Mbombela is 44 mm op twee plekke gemeet vir die maand sover.
Op ‘n plaas buite Lydenburg is 78 mm aangeteken, in die Heidelvallei buite Witrivier 75 mm en in Barberton 64,5 mm vir Oktober.
Slegs Maandagaand is 50 mm by Bateleur gemeet en 40 mm by Joubert en Seuns op Schoemanskloof.
In Komatipoort het 10 mm binne slegs 15 minute geval.

Volgens Engelbrecht kan Laevelders nog vandag en môre reën verwag. Dit behoort teen Donderdag op te klaar.
Hoewel dit ‘n bietjie vroeg is om met sekerheid te sê, verwag die SAWD dat dit oor die naweek ‘n terugkeer sal maak met verspreide donderbuie oor die Laeveld tot Maandag.
Dit is goeie nuus vir plaaslike boere, maar sal veral vir inwoners van Barberton groot verligting bring. Die vlakke van die Lomati-dam, wat die dorp van water voorsien, se vlakke is so laag, dat die dorp sedert Augustus weer beurtwater ervaar.


×