100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Dirco betrek om gestrande studente in Rusland te help

Written by on October 18, 2022

Die Mpumalanga departement van onderwys het ‘n afvaardiging na Rusland gestuur om die uitstaande gelde verskuldig vir 229 studente wat aan elf universiteite in die land studeer, uit te sorteer.
Die studente, wat medies, ingenieurwese, lugwaart en inligtingstegnologie met beurse van die departement studeer, het onlangs alarm gemaak omdat hul klasfooie, verblyf en toelaes vir etlike maande nie betaal is nie.
Die LUR vir onderwys, Bonakele Majuba, het vanoggend sy departement se pogings om die kwessie uit te stryk uiteengesit.
Dit het ontstaan toe die kontrak van Green Tutu, wat handel dryf as RACUS, en wat aangestel was om alle prosesse met betrekking tot die beurse te fasiliteer, in Maart verstryk het.
Volgens Majuba is dit in Oktober verlede jaar geadverteer, maar dit het geen reaksie ontlok nie en dit is in Oktober vanjaar heradverteer.
Volgens Majuba kon hulle nie aanhou om Green Tutu te gebruik nie, omdat die ouditeur-generaal verskeie kere bevind het dat sekere ondersteuningsdokumente nie deur die maatskappy verskaf word nie. Majuba sê hy het die Spesiale Ondersoek-eenheid gevra om dié saak te ondersoek.
“Ons erken dat die afwesigheid van ‘n fasiliteringsagent onnodige vertragings veroorsaak het in die prosessering van sakgeld, klasgeld, verblyf, visums, mediese versekering en vervoerkoste,” sê hy.
Die departement het intussen interne stelsels in plek gestel om van hierdie verantwoordelikhede te fasiliteer.
Sakgeld is tans nog uitstaande aan ses studente wat kwessies met hul bankrekeninge gehad het en die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) help om die universiteite te betaal.
Thokozile Ntuli, die waarnemende adjunkdirekteur-generaal in die kantoor van die hoof finansiële beampte in die Mpumalanga onderwysdepartement, sal voortaan alle betalings prosesseer om enige vertragings in die toekoms te verhoed.

Twee amptenare van die departement het Saterdag na Rusland gereis om saam met die Suid-Afrikaanse ambassade in Moskou te werk om die kwessie finaal uit te sorteer. Hulle het gister reeds vergader en Majuba hoop vir ‘n spoedige oplossing.
“Die rede waarom die departement die studente gekies het om aan die program deel te neem bestaan steeds en daarom bly die departement en die provinsiale regering daartoe verbind,” sê Majuba. “Alles moontlik sal gedoen word om die bestuur van die program te verbeter en te verseker dit slaag.”


×