100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Bespreek vooraf vir ‘n wildtuin-besoek die feestyd

Written by on December 15, 2020

Dagbesoekers aan die Krugerwildtuin word sterk aangeraai om vooraf plek te bespreek om te verseker hulle word hierdie feesseisoen by die wildtuin se hekke ingelaat.
Dit geld vanaf 16 Desember tot 26 Januarie.
Daaglikse kwotas is by elke hek in plek. SANParke se woordvoerder, Rey Thakuli, sê dit geld vir al hul parke.
Dit is deels weens Covid-19, maar dit is ook ‘n baie besige tyd van die jaar.
Besoekers kan kies in watter tydgleuf hulle wil arriveer. Dit is tussen 05:30 en 07:30, 07:30 en 09:30 en na 09:30.

Kwotas vir besoekers is egter geensins ‘n nuutjie nie: Volgens die wildtuin se Ike Phaahla is voorafbespreking net veral nodig tydens baie besige tye soos skoolvakansies en die feesseisoen.
“Ons probeer die volumes wat ons verwag beter bestuur, sowel as ons besoekers se verwagtinge. Die verskillende tydgleuwe het ten doel om die verspreiding van voertuie te verbeter en om so ver moontlik onnodige lang wagtye by die ingangshekke te vermy.”
Die kwotastelsel vir dagbesoekers keer ook dat paaie en fasiliteite te besig raak. “Ons bereik gewoonlik net vol kapasiteit tydens langnaweke en skoolvakansies, met die gevolg dat besoekers dan weggewys moet word.
Besoekers wat vooraf bespreek, kry voorkeur by die hek. Sou jy egter jou bespreekte tydgleuf misloop, sal jy as ‘n onbespreekte besoeker beskou word.
Dit is ook onderhewig aan ‘n fooi van R48 vir volwassenes en R24 per kind.
Ingang vir Suid-Afrikaners sowel as Mosambiekse burgers en dié van Zimbabwe is R105 vir volwassenes en R52 vir kinders tussen twee jaar oud en 11.
Om te bespreek, kontak SANParke by 012-428-9111 of sanparks.org.
Rapporteer enige oortredings van die wildtuin se regulasies by 013-735-0197 of 076-801-9679 met die oortredende voertuig se fabrikaat, kleur en registrasienommer asook die tyd en plek van die voorval, besonderhede daarvan en fotografiese bewyse.


×