100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Bergvlam se Jerusalema Challenge al meer as miljoen keer gekyk

Written by on September 7, 2020

Hoërskool Bergvlam se Jerusalema Challenge het die miljoen-kerf op YouTube verbygesteek.
Die video is sowat ‘n maand gelede op die platform opgelaai. Dit is teen Sondag reeds meer as ‘n miljoen keer gekyk.
In die video, wat deur die skool se eie Freddie Wells opgeneem en geredigeer is, dans die skoolhoof, Deon Visser, en die adjunkhoofde, Org van den Berg en Jacques Krüger, saam met die gr. 12’s.
Die kinders se passies is selfs deur Breyton Paulse op die program, “Toks en Tjops” as “ongelooflik” beskryf.
Die skool se Monique van Heerden het die choreografie deels behartig. Sy sê die idee was om ‘n lekker herinnering van die jaar vir die groep te skep.

“Soveel van hul matriekjaar is gesteel deur Covid-19 en dit was ‘n lekker idee om hulle weer bymekaar te bring en vir hulle ‘n goeie herinnering van 2020 te gee,” sê sy.
Die Jerusalema Challenge het sedert inperking op sosiale media ontplof. Video’s van werknemers by hospitale, kantore en skole is wyd gedeel.
Organisasies daag mekaar ook gereeld uit om aan die Jerusalema Challenge deel te neem.
Wêreldwyd is dit al meer as 110 miljoen keer op YouTube gekyk.
Die skepper van die lied, Master KG, sê hy het hierdie reaksie nooit verwag nie. Hy was glo geskok toe hy vir die eerste keer video’s op sosiale media sien van mense wat daarop dans.
Hy moes intussen verskeie internasionale aanbiedinge van platemaatskappy van die hand wys, omdat hy so oorval is daarmee.
Tot bekendes, soos Cristiano Ronaldo, en minister van finansies, Tito Mboweni, neem deel.
Kyk die video van die Vlammies wat dans, hier.


×