100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Nog ‘n huis brand af in Barberton weens afwesige brandweer

Written by on September 16, 2021

Inwoners van Barberton het ‘n dringende beroep gedoen op Mbombela-munisipaliteit om die dorp se brandweerdiens te herstel.
DA-raadslid Philip Minnaar sê die jongste voorval gister, waarin ‘n huis op Brommers-plaas afgebrand het weens ‘n veldbrand, wys dat hulle nie meer so kan aangaan nie.
Gelukkig kon die gemeenskap self die vuur blus.
Minnaar sê daar is nie toerusting of opgeleide mense in Barberton wat brande kan bestry nie, en alle hulp moet daarom vanaf Nelspruit kom.

“Ons het in ‘n mate darem ‘n brandweerdiens hier gehad,” sê hy, “maar dit het so verswak in die sin dat een van die bakkies nog nie reggemaak is nie en die brandweerwa om een of ander rede teruggeneem is Nelspruit toe.
“Die opgeleide mense doen ook nie meer brandbestryding nie, so as jy ‘n probleem het moet jy Nelspruit bel.”
Hy voeg by dat dit ‘n uur en ‘n half geneem het vir die eerste brandweerwa om by die brand op te gaan gister.
Boonop was daar ‘n paar weke tevore ‘n soortgelyke voorval. “Ons het ‘n ernstige probleem en ons kan nie so aangaan nie.”
In sy skrywe aan die munisipaliteit, noem hy dat die dorp juis beter brandbestrydingsdienste belowe is tydens die vergaderings met die gemeenskap voor Umjindi by Mbombela ingelyf is. Verder, in 2016, is die plaaslike vrywilligers se oproep-toelaag gestop.
Hy noem die onttrekking van die brandwa ‘n ernstige fout en kortsigtig en sê dit kom voor asof verskeie ander voertuie in is vir herstelwerk, maar die diensverskaffer weier om dit terug te gee omdat Mbombela hulle nie betaal het nie.
Hy sluit af dat hulle ‘n verduideliking van die burgemeester en stadsbestuurder verskuldig is.
Hy het ook die groot aantal mense wat gehelp het om gister die brand onder beheer te bring, bedank.


×