100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Afname in sterftes op Mpumalanga se paaie oor Paasfees

Written by on April 9, 2021

Padsterftes oor Paasnaweek het vanjaar ‘n afname getoon: 18 mense is dood in ongelukke, ‘n afname van die 31 sterftes wat twee jaar gelede aangeteken is.
Verlede jaar was die land uiteraard onder vlak 5 van inperking.
Die helfte van die 18 was voetgangers. Die meeste noodlottige ongelukke was op die R40 en N4-tolpad. In totaal is 73 mense ernstig beseer.
Die LUR vir gemeenskapsveiligheid, Vusi Shongwe, skryf die afname toe aan verhoogde polisiëring.
“Ons moet meer doen om ons paai te beveilig,” voeg hy by. “Motoriste moet ook hul kant bring en die pad verantwoordelik gebruik.”
‘n Totaal van 32 303 voertuie is gestop en nagegaan in die provinsie. Sowat 6 785 bestuurders is gevang vir oortredings wat wissel van gevaarlike verbysteek van motors, bestuur sonder veiligheidsgordels en spoedoortredings.
Meer as 100 voertuie is as onpadwaardig verklaar en 144 oorlaaide voertuie is by weegbrûe gekonfiskeer.
TRAC sê dat verkeersvolumes op die N4 Maandag die besigste was wat hulle sedert Paasfees 2019 ervaar het.
Volgens kommunikasiebestuurder, Solange Soares, is dié naweek histories hul besigste.

Vanaf Donderdag tot Maandag is twee mense in ongelukke op die N4 dood: een in Gauteng en een in die Hoëveld. In totaal was daar 52 ongelukke waarvan 20 in Mosambiek was.
“Dit is ongelukkig meer as in 2019 en 2020,” sê Soares.
Soos voorspel het verkeersvolumes Donderdagmiddag, Vrydagoggend en Maandag vanaf 11:00 sy piek bereik.
“Ten spyte van ons pogings om oponthoude op die roete te verhoed, is verkeersopeenhopings ongelukkig op sekere dele van die pad ervaar weens ‘n kombinasie van hoë verkeersvolumes, padkonstruksie tonele en ongelukke.”
Die verkeersvloei by Lebombo-grenspos was egter goed met geen ernstige vertragings wat ondervind is nie.


×