Minister oorhanding verlate geboue vir GBV-skuilings
Written by Mireille on May 20, 2025
Die minister van openbare ondernemings, Dean Macpherson het gister amptelik tien eiendomme aan die Mpumalanga Departement van Maatskaplike Ontwikkeling in Mbombela oorhandig.
Dit sal as skuilings gebruik word vir slagoffers van geslagsgebaseerde geweld (GBV).
Die huise, wat vroeër deur staatsamptenare gebruik is, staan tans leeg. Hulle sal nou deur die provinsiale departement herstel word.
Vyf van die eiendomme is in Badplaas geleë, vier in Lothair en een in Delmas.
Macpherson sê hy het in die begin van sy termyn onderneem om openbare bates tot voordeel van die publiek aan te wend, en dié jongste oorhandiging is deel daarvan.
Vroeër is vyf eiendomme ook aan die Gautengse regering oorhandig.
“Toe ek as minister van openbare werke en infrastruktuur aangestel is, het ek belowe dat die dae van openbare geboue wat leeg staan en onderbenut word, tot ‘n einde gaan kom,” sê hy.
Die minister sê sy departement is van plan om ‘n betekenisvolle rol te speel in die stryd teen geslagsgeweld.
“As ‘n departement het ons ‘n belangrike rol om te speel in die verskaffing van die fasiliteite wat nodig is om die mees kwesbare in ons samelewing te beskerm,” sê Macpherson. “Ons sien daarna uit om die aantal skuilings te verhoog.”
Uit die 52 distrikte regoor die land het 47 werklike toegang tot GBV-skuilings. Die departement werk saam met die minister van maatskaplike ontwikkeling, Sisisi Tolashe, en ander rolspelers om te verseker dat die oorblywende vyf distrikte ook dergelike skuilings ontvang.
Author
Mireille
You may also like
Continue reading
