100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

VF Plus: Regering moet nou erns maak met aanvalle op Numbi-pad

Written by on October 5, 2022

Die VF Plus sê die regering moet nou erns maak met aanvalle op die berugte Numbi-pad, na ‘n Duitse toeris, Jörg Schnarr, Maandag doodgeskiet is.
Hy was saam met sy vrou Vera en hul vriende Reiner en Andrea Nüchter op pad na die wildtuin toe hulle deur drie gewapende mans voorgekeer is.
Werner Weber sê dit laat opnuut die soeklig val op die hoë voorkoms van aanvalle op dié pad die afgelope maande.
“Die regering sal nou daadwerklik moet optree,” sê hy. “Die VF Plus het reeds in Mei vanjaar daarop aangedring dat daar onder meer ʼn sterk polisie-sigbaarheid in die gebied moet wees.”
Die party het ‘n veiligheidsplan by die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid ingedien met betrekking tot die identifisering en ontleding van sleutelbrandpunte, die vestiging van ‘n databasis van misdaad teen toeriste, die verbetering van die toerisme-omgewing deur sigbare polisiëring en die implementering van toerisme-moniteringsprogramme, en die vestiging van ‘n 24-uur blitslyn vir toerismeveiligheid.
“Alhoewel dit aanvaar is, is daar nie veel werk van gemaak tot op hede nie. Dit kan nie langer geïgnoreer word nie,” sê Weber.
“Die beskerming van alle toeriste, die voorkoming van georganiseerde misdaad en die bevordering van volhoubare toerisme-ontwikkeling is uiters belangrik vir Mpumalanga.”
Luister wat sê die LUR vir gemeenskapveiligheid in Mpumalanga, Vusi Shongwe:

Intussen het die minister van polisie, gen. Bheki Cele, en nasionale polisiekommissaris, gen. Fannie Masemola, vandag die misdaadtoneel besoek. Die drie toeriste het hul vakansie kortgeknip en keer vandag terug na Duitsland.
‘n Beloning van R50 000 is uitgeloof vir inligting wat sal lei tot die suksesvolle vervolging van die verdagtes.


×