100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Beloning uitgeloof vir inligting na vermeende kapers Duitse toeris doodskiet

Written by on October 4, 2022

Die Kruger-Laeveld-sakekamer (KLCBT) het ‘n beloning van R50 000 uitgeloof vir inligting oor die verdagtes wat gistermiddag ‘n Duitse toeris tydens ‘n mislukte kaping doodgeskiet het.
Volgens die polisie was ‘n groep van vier toeriste van Duitsland om ongeveer 16:30 in hul Hyundai H1 op die R538 (Numbi-pad) onderweg na die Numbi-hek van die Krugerwildtuin waar hulle by Mdluli Safari Lodge sou oorbly.
Drie gewapende mans in ‘n VW Caddy het hulle voorgekeer en probeer kaap.
Die bestuurder het die voertuig se deure gesluit en is deur die venster geskiet.
Die voertuig het sowat 100 meter agteruit gery en teen ‘n muur tot stilstand gekom.
Volgens polisiewoordvoerder, brig. Selvy Mohlala, het die verdagtes gevlug sonder om iets te steel.

Die Mpumalanga toerisme- en parke-agentskap (MTPA) het die tragedie veroordeel.
Die waarnemende uitvoerende beampte, Mduduzi Vilakazi, het ook sy medelye met die familie en vriende van die slagoffer betuig.
“Ons is diep ontsteld oor hierdie voorvalle wat Mpumalanga en die land ‘n slegte naam gee,” sê hy in ‘n verklaring.
‘n Toerisme-veiligheidspan verskaf onder meer berading aan die oorlewendes.
“Ons werk saam met die polisie en KLCBT om maniere te vind om te verseker ons toeriste is veilig voor die feestyd,” sê Vilakazi.
Oupa Pilane, die voorsitter van toerisme by die KLCBT en die nasionale mede-voorsitter van die Suid-Afrikaanse Toerismedienstevereniging (SATSA), sê ‘n afvaardiging sal vandag met die familie van die slagoffer ontmoet.
Na ‘n reeks aanvalle op dié berugte pad, patrolleer twee gewapende sekuriteitsvoertuie van Hi-Tech Sekuriteit Witrivier sedert Julie voltyds die pad.
Gemoniteerde kameras is ook by die hek sowel as die verkeersirkel by die afdraai opgerig.
Verskeie bewusmakingsveldtogte is ook van stapel gestuur saam met die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid (DCSSL) en die MTPA in ‘n poging om toeriste se veiligheid te verseker.
Lees meer: Voltydse patrollies tree in werking op die Numbi-pad
Mohlala sê ‘n ervare span speurders is aan die saak toegewys.
Niemand is nog aangekeer nie. Enigiemand met inligting is gevra om die polisie te kontak by 08600-10111.


×