100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Polisieminister, nasionale kommissaris besoek Mpumalanga na moord op toeris

Written by on October 5, 2022

Die minister van polisie, gen. Bheki Cele, en die nasionale polisiekommissaris, gen. Fannie Masemola, besoek vandag Mpumalanga na ‘n Duitse toeris Maandag tydens ‘n mislukte kaping doodgeskiet is op die Numbi-pad onderweg na die Krugerwildtuin. Hulle sal vanoggend die toneel besoek.

Jörg Schnarr was saam met sy vrou Vera en hul vriende Reiner en Andrea Nüchter op pad na die wildtuin toe hulle deur drie gewapende mans voorgekeer is.

Lees die volledige berig: Beloning uitgeloof vir inligting na vermeende kapers Duitse toeris doodskiet

Die LUR vir gemeenskapsveiligheid en sekuriteit in die provinsie, Vusi Shongwe, het ‘n beroep gedoen op die publiek om die polisie in hul ondersoek by te staan.

Hy sê dat sulke voorvalle die ekonomie kniehalter omdat dit besoekers en beleggers afskrik en voeg by dat aanvalle op toeriste die harde werk om toerisme te bevorder ongedaan maak.

“Toerisme speel ‘n belangrike rol in ekonomiese groei en werkskepping. Hierdie misdade sal nie net toerisme-ondernemings skaad nie, maar ook die gesinne wat van werk in die bedryf afhanklik is.”

SANParke sê ook dit is ‘n groot terugslag vir die bedryf.

“Ons werk saam met die Kruger-Laeveld-sakekamer (KLCBT) en die nasionale departement van toerisme om ons produkte aan oorsese kliënte te bemark en hierdie jongste kriminele daad ondermyn ons pogings om die bedryf te herstel tot die vlakke van voor die Covid-19-pandemie,” sê woordvoerder Ike Phaahla.

Die Numbi-pad is as ‘n misdaadbrandpunt geïdentifiseer. Die KLCBT het ‘n beloning van R50 000 uitgeloof vir enige inligting wat tot die arrestasie van die aanvallers sal lei.

“Besoekers word aangeraai om hul roetes sorgvuldig te beplan, in ‘n konvooi te reis, en alternatiewe toegangshekke soos die Paul Kruger- en Phabeni-hekke na die wildtuin te gebruik waar moontlik,” voeg Phaahla by.

Hy sê daar word nie tans oorweeg om Numbi-hek te sluit nie.

Shongwe sê hy sal ook met die minister en kommissaris ontmoet, en plaasmoorde is ook op die agenda vir bespreking.

Dit volg op drie moorde in minder as twee weke. Etienne du Toit is Donderdagaand in Sterkspruit buite Mbombela vermoor. Gideon Swart se liggaam is verlede Vrydag op sy plaas buite Waterval Boven ontdek, en verlede Dinsdag is die veearts Jessie Henry Coleman naby Delmas vermoor.

Mpumalanga Landbou (ML) het ook ‘n dringende vergadering met die provinsiale polisiekommissaris, luit. gen. Daphney Manamela, gevra om die toename in plaasaanvalle te bespreek. Die organisasie wil hê Manamela en haar bestuurspan moet landelike veiligheid verbeter.

Die president van ML, Tommy Ferreira, sê Suid-Afrikaners voel nie veilig nie – nie net op plase nie, maar ook in dorpe en voorstede. Hy sê die altyd-teenwoordige geweldsmisdaad bedreig ook voedselsekerheid.


×