100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Opdatering: Skoonmaker vrygelaat na misverstand na transitoroof

Written by on January 27, 2023

‘n Skoonmaker wat vir ‘n kontrakteur van Sanral werk is Woensdag weens ‘n misverstand gearresteer vir diefstal toe hy die pad help opruim het na ‘n transitoroof op die R40 tussen Witrivier en Hazyview.

Sanral sê die man het homself op die toneel verkeerdelik as ‘n Sanral-werker aan polisiebeamptes voorgestel, maar omdat geen padagentskap-werknemer direk verantwoordelik is vir die skoonmaak van rommel en puin na ‘n ongeluk op ‘n pad nie, het die misverstand ontstaan.

Hy is gister vrygelaat.

===========

26 Januarie 2023, 08:47

‘n Werknemer van Sanral is gearresteer vir diefstal na ‘n transitoroof op die R40 tussen Witrivier en Hazyview gister.

‘n Fidelity-geldwa en sy ondersteuningsvoertuig is kort na 10:00 deur sowat 15 gewapende aanvallers voorgelê. ‘n Sekuriteitswag is tydens die skietery dood en twee wagte is gewond.

Lees meer: Sekuriteitswag doodgeskiet tydens transitoroof tussen Witrivier en Hazyview

Volgens polisiewoordvoerder, brig. Selvy Mohlala, is die wagte van hul vuurwapens beroof en die geldwa is met plofstof oopgeskiet.

Die aanvallers het ‘n Mercedes wat hulle tydens die aanval gebruik het en die Fidelity-wa aan die brand gesteek.

Hulle het met ‘n onbekende bedrag kontant gevlug in ‘n Kia Jeep Cherokee, ‘n Kia sportnutsvoertuig en ‘n Ford Ranger-dubbelkajuitbakkie in die rigting van Masoyi.

Sekuriteitswagte het hulle gevolg en ‘n tweede skietgeveg het uitgebreek.

Een van die geroofde vuurwapens is op die toneel teruggevind sowel as van die gesteelde kontant in die bosse.

Mohlala sê die vermeende dief het gehelp om die toneel op te ruim.

Hy is in besit gevind van kontant wat na vermoede tydens die roof gesteel is.

Hy sal na verwagting vandag in die hof in Hazyview verskyn.

Die verdagtes is steeds soek.


×