100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Witrivier-seekoei suksesvol verskuif

Written by on February 22, 2021

Die jong seekoeibul wat sedert Donderdagaand in Witrivier se strate opgemerk is, is Saterdagaand suksesvol gevang en veilig verskuif.
Chris Hobkirk van die Mpumalanga Toerisme en Parkeraad (MTPA), sê die dier is skynbaar deur ‘n ander bul uit die rivierstelsel verjaag.
“Hy wou nie teruggaan nie, so hy het in die teenoorgestelde rigting beweeg en aan mense se grasperke gevreet.”
Die seekoei is Donderdagaand in Swartbergstraat opgemerk en Vrydag om ongeveer middernag weer.
“Dit is ‘n groot logistieke uitdaging om al die nodige voertuie, kratte en veearts te organiseer,” sê Hobkirk. “Hy het net rondgeloop, so ons het besluit om dit tot Saterdag te los om ons tyd te gee om gereed te wees.”
Toe die seekoei Saterdag om so 20:45 in Impalastraat gesien is, was hulle gereed om te mobiliseer.
Daar was egter baie toeskouers. Hobkirk skat tussen 25 en 30 voertuie en naby aan 70 mense, waarvan sommige uit hul karre geklim het.
“Dit skep ‘n gevaarlike situasie, want die dier stres. Ons verstaan almal wou hom sien en foto’s neem, maar dit was uiters uitdagend in terme van skarebeheer.”
Verder is die proses om hom te verdoof, gekompliseerd.
“Wat mense moet besef is, om ‘n seekoei te verdoof moet jy hom ten minste drie keer ‘dart’. Die verskillende middels werk op verskillende tye op hom.”
Op die video van die vangs (kyk op Radio Laeveld 100.5FM se Facebook-bladsy) kan ‘n mens sien dat die bul na die derde pyl nog nie gereed was om geblindoek te word nie, en is hy ‘n vierde dosis toegedien.
Hy word tans by een van die parkeraad se fasiliteite gehou tot hy ten volle herstel het, waarna MTPA-bestuur sal besluit waarheen hy moet gaan.
Hobkirk voeg by dat dit ‘n ongewone situasie was. “Seekoeie loop elke aand in St. Lucia en Phalaborwa rond, maar mense in Witrivier is nie gewoond daaraan nie en doen al die verkeerde dinge.”
Dit sluit in om na die toneel toe te ry en flitse op die seekoei te skyn, wat vir hom stres veroorsaak.

“Dit is nie ideaal nie, maar ons is deur mense se gedrag forseer om hom te skuif,” sluit Hobkirk af.


×