100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Covid-ondersoeke na verskaffers duur voort

Written by on February 22, 2021

Die ondersoek na ongeruimdhede in provinsiale departemente se verkryging van beskermende kleredrag vir Covid is steeds nie afgehandel nie.
Die ondersoek na vyf departemente en entiteite sou aanvanklik onafhanklik gedoen word en ‘n paar weke neem. Ses maande later duur dit steeds voort.
Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het dit intussen oorgeneem. Die premier, Refilwe Mtshweni-Tsipane, sê verskeie ondersoeke is onderweg en die SOE hou hulle op hoogte.
Mtshweni-Tsipane het ses maande gelede, op 19 Augustus, aangekondig dat onreëlmatighede geïdentifiseer is in vyf provinsiale entiteite se keuse van verskaffers vir beskermende kleredrag.
Dit is die departemente van sport en samewerkende regering, die tesourie, Mpumalanga-toerisme-en-parkeraad (MTPA) en die Mpumalanga-agentskap vir ekonomiese groei (Mega).
‘n Beperkte aantal verskaffers sou glo voordeel getrek het uit die kontrakte. Dit is ook teenstrydig met haar administrasie se beleid dat klein ondernemings wat veral vroue, jeugdiges en mense met gestremdhede ondersteun, bevoordeel moet word.
Volgens Mtshweni-Tsipane het die SOE die ondersoeke oorgeneem. Haar kantoor het teen Oktober reeds twee tussentydse verslae daaroor ontvang.
Sy sê sy wag op die eenheid se finale verslag, wat sy sê sy bekend sal maak.

“Ons het ‘n voorlopige verslag ontvang, wat ons na die SOE verwys het vir verdere ondersoek. Teen Oktober het twee voorlopige verslae van die SOE ontvang. So alle prosesse is aan die gang.”
Volgens die DA toon die provinsiale tesourie se verslag daaroor vir die eerste kwartaal van 2020/21, dat daar groot wisselvalligheid was in die pryse van items wat deur die regering aangekoop is.
So is daar tussen ongeveer R1 200 en R1 800 betaal vir digitale termometers, maar sommige het R2 527 en meer opgedok.
In ander gevalle is R1 624 spandeer op 25-liter ontsmettingsmiddel, terwyl ander R4 590 vir dieselfde volume betaal het.
Die SOE het destyds ook al die gesondheidsdepartement ondersoek, en aanbeveel dat stappe teen twee amptenare geneem word vir onder meer die aankoop van skryfbehoeftes teen opgeblaasde pryse.
Die premier ontken dat geen aksie teen die amptenare geneem is nie.
“Ons het die verslag bestudeer en was in kontak met almal wat daarin geïmpliseer is, ook die diensverskaffer.
“Werk word gemaak om te verseker dat ons al die aanbevelings in die verslag, implementeer.”



×