100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Waterkrisis staar Barberton in die gesig

Written by on November 16, 2020

Barberton se watertekorte word al hoe erger.
Die Lomati-dam, wat die area van water voorsien, is tans net 16% vol.
Raadslid, Philip Minnaar, sê as dit nie binnekort goed reën nie, stuur hulle moontlik weer af op ‘n krisis soos in 2013, toe die dam heeltemal leeggeloop het.
“Die dam is te laag vir ons om die reservoirs te kan volmaak. Die gevolg is dat die meeste van die areas aanmekaar sonder water is: soms vir die dag en aand, en soms vir twee dae.
“Ons kan glad nie meer beurtwater volgens die skedule toepas nie. Jy kan nie meer daarby hou nie, want daar is nie water nie.
“Dit is absolute krisisbestuur, en dit word bykans erger by die dag.
”Jy het geen waarborg, wanneer jy jou kraan oopdraai, of daar water gaan wees nie.”

Volgens Minnaar is die enigste oplossing goeie reën wat die damvlakke verbeter. “Ons is darem aan die begin van die reënseisoen,” voeg hy by.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het vroeër ‘n buitengewone goeie reënseisoen die jaar vir die noordelike deel van die land, voorspel.
Intussen moet inwoners werk met wat hulle het. Waterpunte is opgestel asook boorgate waar mense water kan gaan afhaal.
Tog veroorsaak beurtwater dikwels dat die water bruinerig lyk weens sediment wat natuurlik in die pype opbou oor jare.
Die water word as veilig beskou, maar inwoners word aangeraai om dit nie te drink sonder om dit te kook nie.
Volgens Minnaar hou sommige inwoners egter vol om hul tuine nat te lei en hul karre met tuinslange te was en water te mors.
Hy pleit dat inwoners baie spaarsamig daarmee werk.
“Ons moet nou saamstaan,” sluit hy af. “Elke druppel tel op hierdie stadium.”


×