100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Nelsville se water Woensdag tydelik af

Written by on November 17, 2020

Nelsville se water sal môre vir sowat 12 uur afgesit word, sodat ‘n gebarste pyp onder ‘n elektriese transformator vervang kan word.
Inwoners sukkel sedert Sondagaand met watertekorte, toe die pyp op verskillende plekke gebars het.
Die woordvoerder van Silulumanzi, Richmond Jele, verduidelik dat dié pyp op drie verskillende plekke gebars het binne 24 uur vanaf Sondagaand.
“Dit lyk asof daar gruis in die pyp beland het, wat verskeie blokkasies in die pyp veroorsaak het,” sê hy. “Die pyp is nou herstel, maar dit is net tydelik. Ons moet dit vervang.”

Die vervanging van die pyp sal Woensdagoggend rondom 07:00 begin en moontlik tot 19:00 duur.
Nelsville sal vir die durasie sonder water wees. Jele waarsku dat Steiltes se elektrisiteit ook tydelik afgesit sal moet word.
“Die pyp is onder die tranformator, wat ‘n bietjie gesak het. Die nuwe pyp moet onder dit gelê word.”
Groot dele van KaBokweni sit tans ook sonder water weens ‘n gebarste pyp. Herstelwerk is ook onderweg aan Witrivier-reservoir se pype.
Dit is buiten Barberton wat tans ‘n waterkrisis beleef waar inwoners dae aaneen soms nie water het nie.

Die gebarste pyp is langs Gracestraat geleë. Jele het gister gesê dat die water teen 14:00 volledig herstel behoort te wees.
Tog het die een bars kennelik na ‘n volgende gelei.
Die feit dat die bars onder die transformator was, bemoeilik sake in dat die span baie versigtig te werk moet gaan om te verhoed dat hulle elektriese kabels beskadig.
Silulumanzi het verskoning gevra vir die ongerief. “Ons sal ons uiterste doen om die duur daarvan te beperk.”
Skakel Silulumanzi tydens werksure by 086-174-5858 om enige lekkasies en noodgevalle te raporteer.


×