100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Plaaslike toerisme hoopvol hulle kan herstel

Written by on November 16, 2020

Die landsgrense is nou oop vir alle besoekers, maar dit beteken nog lank nie dat die internasionale reisigers wat Suid-Afrika se toerismebedryf dra, hierdie feesseisoen in hul massas die land sal besoek nie.
‘n Ligpuntjie vir die Laeveld en Mbombela is dat een van die grootste inspuitings vir die plaaslike ekonomie, reeds herstel wys.
Mosambiekse besoekers is van kardinale belang, sê Linda Grimbeek, uitvoerende hoof van die Kruger-Laeveld-sakekamer (KLCBT), en Cobus Tomlinson, voorsitter van die Nelspruit plaaslike toerisme-organisasie (LTO). Beide skat hul bydrae op ten minste 30% van plaaslike ondernemings se opbrengste.
Die grense tussen dié twee lande is reeds geruime tyd oop en hulle sien reeds dat besoekersgetalle begin toeneem.
“Hulle sal aanhou kom,” sê Tomlinson. “Hierdie is net die begin van die feestyd.”
Maar na maande van inperking die bedryf erge skade berokken het, is die konsensus dat herstel moontlik is.
Hoewel dit maande kan neem om besoekers van verder, soos Europa en die VSA wat tans nuwe golwe van Covid-19 ondervind, terug te kry, is beide vol moed dat hulle binne maande ‘n terugkeer sal maak.

Wat wel in die slag bly vir plaaslike ondernemings, is die besoekersgetalle wat verlore gegaan het weens die kansellasie van Innibos, asook groot funksies by Mbombela-stadion en ‘n afname in sakereisigers.
“Dit het ons hard geslaan dat sulke funksies nie meer gehou is tydens inperking nie,” sê Tomlinson. “Ek dink nie ons het besef hoeveel sake ons gekry het van die stadion wat nie eens vol was nie.”
Verder maak besoekers van Gauteng en Limpopo sowat 60% uit.
“Ons het gewoonlik ‘n goeie balans,” verduidelik hy. Die buitelandse toeriste spandeer geld, gooi petrol in, koop en eet uit, maar vermy winkelsentrums. Die Mosambiekers kom doen inkopies by die winkelsentrums. Toeriste bly oor die naweek, en die sakereisigers in die week.
“Hierdie gaan baie vir ons beteken. Ons het weer hoop,” sê hy oor die oop grense.
Die Nelspruit TLO se strategie is juis om elke besoeker een dag langer te laat bly om nog van die Laeveld te geniet.
Hulle knap die sokkerbal, oftewel die Oog van Mbombela, daarom reeds sowat drie jaar lank op. Die opgraderings is amper klaar.


×