100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vuurwerke vanjaar op Oujaar in Mbombela verbied

Written by on December 23, 2020

Vuurwerke en klappers word nie vanjaar in die Mbombela-area toegelaat nie, want al die sportgronde en stadions is gesluit vir die publiek.
Die munisipale bestuurder, Wiseman Khumalo, het heirdie week aangekondig dat die munisipaliteit tydelik sekere fasiliteite vir die publiek toemaak weens die tweede golf van die Covid-19-pandemie wat die land tans ondervind.
Die geriewe sluit ook die munisipale swembaddens, gemeenskapsale, biblioteke en die kunsgallery in.
Vuurwerke is in die Mbombela-area verbied, maar word op sekere tye op drie dae toegelaat op sekere plekke. Dit is Oujaarsaand (18:00 tot 01:00), Chinese Nuwejaar (18:00 tot 22:00) en Diwali (18:00 tot 22:00).
Dit mag ook slegs op sportgronde afgevuur word.
Petrus Mthiyane, die hoof van Mbombela se brandweer, het bevestig dat die sluiting daarvan beteken dat vuurwerke effektief verbied is.

Onder gewone omstandighede moet daar vir spesiale vuurwerkvertonings spesifieke toestemming by die brandweer verkry word, wat dan ook met die vertoning teenwoordig is om mense se veiligheid te verseker.
Die lawaai word beskou as skadelik vir mense en diere, maar is gewild – veral op Oujaarsaand.
Die wet stipuleer verder dat vuurwerke net by sekere gelisensieerde handelaars gekoop mag word. Dit is egter vir vanjaar van die baan.
Daar was op 21 Desember (die jongste syfers beskikbaar van Mpumalanga se gesondheidsdepartement teen publikasie) 403 aktiewe Covid-19-gevalle in die munisipale area met 66 sterftes wat aangeteken is weens die koronavirus.
Volgens die departement word dié area, asook Ehlanzeni-distrik, die ergste geraak in die provinsie.



×