100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Help mekaar hierdie feestyd

Written by on December 23, 2020

Organisasies wat mense in nood help, sê die vraag in die gemeenskap bly groot weens die Covid-19-pandemie.
Hulle het weer ‘n beroep gedoen op inwoners om minder bevoorregtes hierdie feestyd te help.
Thea Rix van Ons gee om Nelspruit sê die vraag is aansienlik groter hierdie jaar. Wat anders is, is dat mense stil bly daaroor.
“Ons hoor van ander mense, soos bure, van mense wat nie kos in hul huise het nie. Die mense wat regtig in nood is, weet ek nie hoe om by uit te kom nie.”
Mense het ook nie net kos nodig nie, maar ook huisware, insluitende potte, beddens en yskaste.
“Sommige mense het hul goed verkoop met die idee om te verhuis vir werk wat toe nie uitgewerk het nie, of het geskei en met amper niks uitgeloop nie. Die meeste is mense wat uit hul verblyf gesit is, en alles verkoop het om aan die lewe te bly.”
Kos is egter voorop: nie-bederfbare sowel as bederfbare kos. “Ons deel dit so vinnig uit, mense kan vars kos ook skenk,” sê sy.

Past. TJ Maré van Mpumalanga Leadership Foundation (MLF) wat na behoeftige en hawelose mense by Nelspruit Gemeenskapsforum (NGF) en Damascus-plaas omsien, sê Sonpark SPAR maak vanjaar ‘n lekker Kersete vir almal.
Hulle het oor die algemeen egter kos nodig: meel en rys en groente en koffie en tee, asook produkte vir persoonlike higiëne soos seep.
“Nie noodwendig vir Kersdag nie, maar ook in die Nuwejaar,” sê hy.
Daar woon tans 30 mense by Damascus.
Kontak Rix om skenkings te maak, of Ons gee om Nelspruit van mense in nood te verwittig by 082-711-2889. Kontak Maré by 082-772-6396. 


×