100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vermeende kinderverkragter terug in die hof

Written by on July 3, 2020

‘n Sekuriteitswag het Woensdag weer in die Nelspruit hof verskyn, nadat hy van verskeie seksuele misdrywe aangekla is.
Die 35-jarige man is aanvanklik in April gearresteer. Hy is borgtog van R1 500 toegestaan.
Hy word aangekla van onder meer verkragting, seksuele aanranding en die blootstelling van kinders aan pornografie.
Volgens polisiewoordvoerder, brig. Leonard Hlathi, is sy slagoffers dogtertjies tussen die ouderdomme van nege en 12 jaar oud.
Die voorvalle het tussen Januarie en Maart plaasgevind. Die man was glo ‘n familievriend van die slagoffers se ouers en het soms na hulle omgesien wanneer die ouers weg was.
Die man moet weer op 3 Augustus in dieselfde hof verskyn.

Die polisie in Mpumalanga is verder op soek na ‘n vermeende verkragter wat Woensdag ‘n 27-jarige vrou aangeval het.
Die voorval het in ‘n begraafplaas in Masoyi plaasgevind. Die vrou was alleen op pad na ‘n bushalte om werk toe te gaan.
Volgens Hlathi was dit steeds donker toe die man haar met ‘n mes voorgelê het, gedreig het en toe verkrag het.
Die provinsiale polisiekommissaris, luit. gen. Mondli Zuma, sê hulle word deesdae oorval deur gevalle van geslagsmisdaad.
Die polisie het die gemeenskap gevra om hulle te help om oortreders vas te trek.
Enigiemand met meer inligting oor die Masoyi-geval word aangemoedig om sers. Nkosinathi Sindane by 072-108-9454 te bel of die polisie by 086-001-0111 te kontak.
Inligting sal as vertroulik hanteer word.

 


×