100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Departement sê skole is veilig vir Mpumalanga-leerlinge

Written by on July 3, 2020

Die skole heropen Maandag vir minder leerlinge as wat aanvanklik beplan is.
Die departement van basiese onderwys het Donderdag aangekondig dat slegs gr. 6, gr. 11 en gr. R Maandag terugkeer skool toe. Gr. 7 en gr. 12.-leeringe is reeds terug.
Die departement maak egter voorsiening dat skole van die gepubliseerde datums mag afwyk mits hulle dit veilig kan doen.
Jasper Zwane, woordvoerder van die Mpumalanga onderwysdepartement, sê tot dusver is Covid-19-gevalle by 33 skole in die provinsie geïdentifiseer.
‘n Totaal van 25 onderwysers en 11 leerlinge het positief getoets.

“Een geval is een te veel, maar so ver is daar rede om te glo dit sal nie nadelig wees vir ons kinders om terug te keer skool toe nie,” sê Zwane.
Hoërskool Rob Ferreira gaan voort met hul plan om die hele hoërskool Maandag formeel terug te hê.
Hoërskool Bergvlam sal die gr. 10’s en gr. 11’s terug bring, soos beplan.
Beide skole sal die grade in die helfte deel en die groepe roteer tussen onderrig by die skool en afstandonderrig.
Die hoeveelheid Covid-19-gevalle het die afgelope week landwyd skerp gestyg. Daar is veral kommer oor Gauteng, die Wes-Kaap en Oos-Kaap.
Mpumalanga het tans 1 478 bevestigde gevalle, met sewe sterftes, teenoor Gauteng se 49 937 gevalle en 282 sterftes.
Die departement van basiese onderwys verduidelik dat die heropening van skole ‘n balanseertoertjie is.
Minister Angie Motshekga sal na verwagting oor die naweek ‘n perskonferensie hou om inligting te deel oor hoe die ander grade na die skoolbanke terug sal keer.
Die departement mik vir ‘n terugkeer na normaliteit teen Augustus.

 


×