100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Verdagte vasgetrek na transitoroof

Written by on June 21, 2021

Een van die verdagtes wat na bewering op 6 Mei ‘n transitoroof probeer uitvoer het, is aangekeer.
Die R40 tussen Nelspruit en Barberton was vir ure gesluit na ‘n groep gewapende mans die geldwa van die pad probeer druk het.
Lees die oorspronklike storie hier: Ooggetuies deel ervaring van transitoroof
Sizwe Mduduzi Mahlalela (38) is Donderdag deur die Valke aangekeer. Hy het Vrydag in die Barberton-landdroshof verskyn.
Woordvoerder van die Valke in Mpumalanga, kapt. Dineo Sekgotodi, sê Mahlalela was ten tyde van dié aanval uit op parool nadat hy tronkstraf uitgedien het vir moord en huisroof.

Die groep aanvallers het op die toneel van die mislukte roof ‘n Toyota Hilux-bakkie gekaap en Barberton toe gevlug. Daar het hulle die voertuig agtergelaat en ‘n VW Polo gekaap. Laasgenoemde is later tussen Witrivier en Kabokweni teruggevind.
Mahlalela is glo met die twee voertuie verbind en is aangekla van kaping. Hy bly in aanhouding tot hy op 28 Junie weer verskyn.
Meer as 580 verdagtes is die afgelope week in Mpumalanga aangekeer deur verskillende wetstoepassingsorganisasies.
Volgens polisiewoordvoerder, brig. Leonard Hlathi, het sowat 85 van die aangekeerdes die inperkingsregulasies oortree.
Ander oortredings sluit in moord, poging tot moord, motorkaping, verkragting, roof, aanranding met die doel om ernstig te beseer, die besit van dwelms of onwettige vuurwapens en ammunisie asook dronkbestuur.
Die arrestasies is tussen 14 Junie en gister aangeteken.
Waarnemende polisiekommissaris in Mpumalanga, maj. gen. Thulani Phahla, sê dit is kommerwekkend dat mense so roekeloos optree terwyl die land sy derde vlaag infeksies van die koronavirus-pandemie beleef.
Daar is die afgelope twee dae elke dag meer as 500 nuwe Covid-19-gevalle in die provinsie aangeteken.


×