100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Onderwyspersoneel vanaf môre ingeënt

Written by on June 22, 2021

Mpumalanga se LUR’e vir onderwys, Bonakele Majuba, en gesondheid, Sasekani Manzini, sal môre saam die provinsie se inentingsprogram vir onderwyspersoneel in Kanyamazane bekendstel.
Die woordvoerder van die gesondheidsdepartement, Dumisani Malamule, sê besonderhede oor hoe alle personeel ingeënt gaan word, sal dan bekendgemaak word.

Die 100 000-merk vir inentings in die provinsie is Vrydag verbygesteek. ‘n Totaal van 108 183 mense is nou geënt.
Daar is tans 582 aktiewe gevalle van die virus in die Mbombela-area, op van 345 ‘n week gelede op 16 Junie. Vyf mense is die afgelope week hier aan die koronavirus dood.
Thaba Chweu se aktiewe gevalle het verdubbel, van 52 tot 106. In Nkomazi is daar 75, teenoor 46 ‘n week gelede.
Volgens die jongste amptelike syfers is geen sterftes weens die virus die afgelope sewe dae in die twee munisipaliteite aangemeld nie.
Die afskop van die inentingsprogram vir onderwysers en onderwyspersoneel vind Woensdag om 09:00 by die voormalige Ngwenya-kollege plaas.
Majuba sê dit is belangrik om onderwyspersoneel en werknemers van die departement aan te moedig om die inenting teen Covid-19 te ontvang.
“Dit bly belangrik om te onthou dat die ontvang van die inenting nie beteken dat ons nie meer aan nie-mediese veiligheidsprotokolle hoef te voldoen nie,” voeg hy by.
“Ons vra ook alle skole om Covid-19-komitees te stig om kwessies rondom die virus beter te bestuur en te beheer.”


×