100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vermeende stroper deur olifante doodgetrap in wildtuin

Written by on April 19, 2021

Vier vermeende renosterstropers is die naweek in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) vasgetrek.
Saterdag is een naby Phabeni dood toe hy deur ‘n teeltrop olifante vertrap is. Sy een medepligtige is aangekeer. ‘n Derde het suksesvol gevlug, na vermoede in die nabygeleë Nyongane in.
Volgens SANParke was veldwagters op roetine patrollie in die Phabeni-area toe hulle spore sien. Hulle het die drie verdagtes gevolg en hulle het gevlug – glo in die trop olifante in.
Die lugvleuel en honde-eenheid is ontbied. Die slagoffer se liggaam is later gekry. In hul vlug het die verdagtes ‘n byl en sak met proviand laat val. ‘n Geweer is ook op die toneel gevind.
Sondag is nog drie vermeende stropers in die Pretoriuskop-area vasgetrek.
Volgens NKW-woordvoerder, Ike Phaahla, het die veldwagters, ondanks die warm weer, die spoor suksesvol gevolg en die drie aangekeer. Hulle was in besit van ‘n jaggeweer, ammunisie en stropingstoerusting.

Besturende hoof van die wildtuin, Gareth Coleman, het alle rolspelers gelukgewens met die arrestasies.
“Ons is trots op die spanwerk en toewyding van ons veldwagters, ons lugvleuel en die honde-eenheid. Dit is ongelukkig dat ‘n lewe onnodig verloor is.
“Ons kan slegs deur dissipline en spanwerk die vlaag renosterstropery in die NKW hokslaan.”
Hy het die gemeenskap gevra om inligting met hulle te deel.
“Dit is ons almal se verantwoordelikheid: stroping bedreig mense se lewensonderhoud en verg hulpbronne wat eerder op werkskepping en ontwikkeling spandeer kon word,” sê hy.
Phaahla sê die arrestasies is goed vir die veldwagters se moraal, omdat die mense gevang is voor hulle suksesvol diere kon stroop.
Die verdagtes sal eersdaags in die hof verskyn.

*Foto ter illustrasie.


×