100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Hoftolk aangekeer vir beweerde korrupsie

Written by on April 17, 2021

‘n Veertigjarige tolk by die Mkhuhlu-hof sal na verwagting Maandag in die hof in Bosbokrand verskyn op klagte van korrupsie.
Die man is gister deur die Valke gearresteer.
Volgens woordvoerder, kapt. Dineo Sekgotodi, word beweer dat hy tussen Januarie en Maart twee mense omkoopgeld gevra het om sake teen hulle te laat verdwyn.
Die mense het die geld betaal, maar die sake teen hulle is nooit teruggetrek nie. Hulle het die man toe aangegee.
Die eerste slagoffer was uit op borgtog vir twee klagte van huishoudelike geweld en het glo ‘n beskermingsbevel verontagsaam. Die tolk het geld geëis om te verseker die sake teen die man word teruggetrek. Hy het ook glo geld gevra vir die dossier om te verdwyn.
Die man het dit betaal, maar die sake is nie teruggetrek nie. ‘n Tweede, vroulike, slagoffer ook het na vore gekom met ‘n soortgelyke storie.

Die Valke vra dat ander slagoffers die ondersoekbeampte kontak by 071-‪481-2819‬.
In Bosbokrand is twee mans in afsonderlike gevalle van groepsgeweld die week dood.
Volgens kol. Donald Mdluli was die eerste voorval Woensdag toe drie gewapende mans ‘n winkeleienaar in Zoeknog probeer beroof het. Die man het alarm gemaak. Twee aanvallers kon vlug, maar die een wat agtergelaat is, is deur lede van die gemeenskap vasgebind en aangerand tot hy dood is.
Donderdag is ‘n 38-jarige dood in Majembeni-trust. Hy is na bewering betrap terwyl hy ‘n bejaarde vrou verkrag het, en gemeenskapslede het hom ernstig aangerand tot hy dood is.

Mpumalanga se waarnemende polisiekomissaris, maj. gen. Thulani Phahla, sê niemand is verhewe bo die wet of mag die reg in eie hande neem nie, ongeag die omstandighede.
Mense is aangemoedig om eerder by formele strukture soos gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) aan te sluit en saam met tradisionele leiers te werk om misdaad aan te spreek.
“Diegene wat die wet oortree sal opgesluit word, ongeag wie hulle is,” sê Phahla.


×