100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vee op Mbombela-paaie weer ‘n groot probleem

Written by on March 2, 2021

Nog ‘n bees is gisteraand op die Kaapsehoop-pad doodgery.
Volgens berigte is nog een vanoggend op die N4 naby Hall’s getref. Die Nelspruit DBV kon hom egter nie opspoor nie, maar het ander vee van die middelman op die besige pad verjaag.
Die DBV sê dit word ‘n ál groter probleem, maar hulle kan niks daaraan doen wanneer beeste langs besige paaie wei nie.
“Dit raak ‘n baie groot probleem. Die vorige aand was hulle die hele N4 vol by Hall’s. Ons moes al hoeveel van kant maak.
“Ons moes al in die middel van nag beeste aanjaag na die ou lughawe toe. En dit is nie net gevaarlik vir diere nie, maar vir mense ook.”
Die vee is ‘n munisipale verantwoordelikheid en die munisipaliteit sou vanoggend verkeersbeamptes uitgestuur het na waar die beeste gewei het.
Die verlangde langtermyn-oplossing is egter ‘n formele ooreenkoms tussen Mbombela-munisipaliteit en die DBV vir hulle om plaasdiere te skut.

“Ons benodig ‘n skut-ooreenkoms vir plaasdiere, waarvolgens ons die korrekte toerusting en voertuie sal hê en genoegsame spasie om die diere te kán skut.
“Eienaars sal moet betaal om hulle terug te kry. Dan gaan dit aan hul sakke raak en sal hulle hopelik beter na hul diere omsien.”
Dié ooreenkoms bestaan tans nie, wat rondlopervee nie die DBV se verantwoordelikheid maak nie.
“Ons kan slegs betrokke raak wanneer hulle seerkry.”




×