100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Interskole-atletiek steeds van die baan, maar klubs bied ‘n plan

Written by on March 2, 2021

Hoërskool Nelspruit (NHS) se atlete is gereed vir die atletiekseisoen, al lyk die program vanjaar heelwat anders as in die verlede.
DP Badenhorst, die skool se sportspesialis van atletiek, sê skole mag nie teen mekaar deelneem tot die onderwysdepartement die groenlig daarvoor gee nie.
Skole neem nou eerder deel aan byeenkomste wat deur Atletiek Suid-Afrika (ASA) se klubstrukture plaasvind.
Hy voeg by dat dit moeilik is vir die kinders wat bloot aan interhoër wou deelneem, maar dat dit belangrik is vir hul ontwikkeling om aan te hou met oefen.

NHS se jaarlikse BUCO-interhuisbyeenkoms het verlede week vir uithaler-vertonings gesorg, ondanks die vele wysigings en aanpassings wat vanweë Covid-regulasies nagekom moes word.
Badenhorst sê dit was opvallend dat die atlete reeds op ‘n gevorderde stadium van afrigting en na aan topvorm is, al is dit nog die begin van die atletiekseisoen. Hy skryf dit toe aan die harde werk wat hulle sedert September ingesit het.
“Hulle het hard gewerk van September toe hulle kon begin oefen het. Die kinders is honger vir atletiek en honger vir sport.
“Die heel belangrike ding is jy wil kinders nie vals hoop gee as jy afrig nie. So jy bly oefen met die verwagting daar sal ‘n SA-kampioenskap wees. Op hierdie stadium gaan dit nog voort (7-10 April in Paarl).


“Ander wil net deel van ‘n interhoërspan wees en dit is moeilik. Maar die groot rede hoekom ons bly oefen is, as ons nie, gaan daar volgende jaar ‘n gat wees in terme van hul ontwikkeling.”
By die interhuis was die junior seuns en meisies Dinsdag in aksie, en die seniors Woensdag.
Die Atheners was in beide die seuns- en meisiesafdelings te sterk vir die Trojane en Spartane. Hul seuns het die trofee met 672 punte teenoor die Trojane se 664,5 en Spartane se 550,5 gewen.
Wat die meisies betref, het die Atheners amok gemaak. Hul totaal van 806 punte, het die Trojane (465) en Spartane (457) ver agter gelaat.
Christo Nel en Nicci Viljoen is as die victor en victrix ludorum o.19 aangewys.

‘n Hele paar atlete spog ook nou met nuwe interhuisrekords.
Ashley Erasmus (o.16) het nuwe rekords in gewigstoot en skyfwerp opgestel. Haar gewigstoot was die algehele beste prestasie van die dag, volgens die ASA-puntetabel.
In gewigstoot het sy Ilke Joubert se 2015-rekord van 13,00m na ‘n ongelooflike 15,67m verbeter. Ook Shana Scott se 36,11m-rekord in skyfwerp wat in 2019 opgestel is, het voor haar wenpoging van 39,42m geswig.
Vaughn van Zyl (o.14) het die oë laat rek met skitterafstande van 50,96m in skyfwerp en 14,59m in gewigstoot. Ook Hannes Botha (o.17) lyk op hierdie vroeë stadium na ‘n SA-atleet met ‘n spiesgooi-afstand van 67,35m.
Tanya Pieterse (o.15) het die 90m hekkies in ‘n pragtyd van 14.66 sek. afgeblits, en Marco Capazorio (o.17) het ook gewys dat hy groot planne vir die jaar het, toe hy die 110m hekkies in ‘n rekordtyd van 14.53 sek. gewen het.

Foto’s: Hennie Homann


×