100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Twee verdagtes vasgetrek na moord op Witrivier-prokureur

Written by on October 23, 2020

Twee mans is gisteroggend in KaBokweni in hegtenis geneem vir die vermeende moord op Gerrit Stander.
Hy is Maandagoggend verskeie kere geskiet tydens ‘n roof by sy huis in die Plaston-omgewing naby Witrivier. Die aanval het vroegoggend gebeur.
Stander is glo meer as een keer geskiet. Daarna het die onbekende aantal verdagtes gevlug.
Hy het dieselfde oggend in Kiaat-hospitaal aan sy wonde beswyk.
Stander se gedenkdiens word vandag om 13:30 by die NG-Kerk Suid Nelspruit gehou. Hy sou ook vandag 39 jaar oud geword het.
Medelye het sedert die aanval op Facebook aan Gerrit se ouers, Martiens en Magda, sy vrou Yolandi, dogtertjie en familie ingestroom.
Albert Gryvenstein van Bossies Community Justice (BCJ) het bevestig dat die verdagtes Maandag in die Witrivier-landdroshof sal verskyn.
Hulle is aangekeer in samewerking met die Mpumalanga Valke, asook Nelspruit en Witrivier se speurtakke en BCJ.

Volgens die Valke is die mans (wat onderskeidelik 26 en 30 jaar oud is) aangekeer toe hulle ‘n selfoon, iPad, en naaldwerkmasjien wat tydens die roof gesteel is, probeer verkoop het.
Nog ‘n selfoon en juweliersware is ook tydens die huisroof gesteel, aldus die Valke se kapt. Lloyd Ramovha.
Die Valke het inligting oor die beplande transaksie bekom. Hulle en die polisie het na die toneel gehaas, die transaksie gesien en die verdagtes gearresteer.
Gryvenstein skryf die deurbraak toe aan goeie speurwerk.
Hy sê die verdagtes word nie aan die plaas gekoppel nie, en is tans nie met ander soortgelyke voorvalle verbind nie.
Gryvenstein voeg by dat nog arrestasies verwag word.
Die ondersoek duur voort.


×