100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mbombela-pastoor dankbaar om te leef na fratsongeluk

Written by on October 23, 2020

Dit is ‘n wonderwerk dat sy leef, sê past. Cyzelle Fincham van die Grace Family Fellowship Nelspruit.
Vandag is presies ses weke sedert sy ernstig beseer is in ‘n fratsongeluk toe ‘n Polaris-jagvoertuig omgeslaan en op haar te lande gekom het.
Sy en haar gesin (manlief Kelvin, wat saam met haar in die bediening is en die egpaar se drie kinders, van onderskeidelik 13, 12 en nege jaar oud) het daardie naweek saam met vriende by Vygeboom-dam gekuier.
“My kinders het ‘n eendjie uit die dam gehaal. Ek het gesê ons moet dit terug sit.”
‘n Vriend wat daar woon en geweet het waar die nes is, het haar met ‘n Polaris-jagvoertuig geneem. Op pad terug het hy te skerp gedraai.
Sy het uitgevlieg en die 700 kilogram-voertuig het tot op haar gerol.

Dit het haar bekkenbeen op drie plekke gebreek. Aan haar linkerkant is ses ribbes af, ‘n wangbeen en ‘n been in haar voorkop het gebreek. Drie nekwerwels is gekraak. Haar linkeroor het deels afgeskeur en die boonste lid van haar pinkie is af.
“Ek is ‘n wonderwerk soos ek hier sit,” vertel sy in haar sitkamer. “Dit is ‘n wonderwerk dat die bene nie deur my oog of longe gesteek het nie.”
Kelvin het die voertuig van haar help aftel en met haar Mediclinic Nelspruit toe gejaag.
“Hulle het deur my mond geopereer sodat ek vandag lyk soos ek lyk.”
Sy is per helikopter na die Eugene Marais-hospitaal in Pretoria oorgeplaas.
Cyzelle herstel vinniger as verwag. “Al die dokters wat my X-strale gesien het, het gesê ek het baie seergekry. Hulle het gedink ek sal ses weke in intensiewesorg wees, maar ek is in die tweede week daaruit.”
Sy het nogal gehallusineer die 10 dae onder sedasie in intensiewesorg. “Wat mooi was wat ek gesien het van die Here was engelkore en ek die siele wat in die hemel opgaan en al die geliefdes van die Here en ek sien hoe bid hulle vir my regoor die wêreld. Min weet ek dit was regtig besig om te gebeur.
”Mense wat my nie eens ken nie het vir my gebid en ek is so dankbaar daarvoor, want dit was die beweging van die Heilige Gees.
“Tot Riana Nel het profeties oor my gesing toe ek in was vir die operasie aan my gesig.”
Nou leer sy weer om met haar linkerbeen te loop met weeklikse fisioterapie en massering om die spiere los te maak.
“Dit is vir my die moeilikste gedeelte want dit is baie seer.”

Sy is ook dol oor rose. Terwyl sy in die hospitaal was, het haar sussie vir haar ‘n roostuin geplant, met bossies wat mense gekoop het.
“Ek is dankbaar om ‘n Laevelder te wees, want die gemeenskap het my oopmond laat staan deur hoe almal net vir my kom hallo sê, elke dag vra hoe dit gaan.”
Mense het geskenke, koopbewyse, sjokolade, blomme en nog wat aangedra. Die ouers in haar oudste se graad het selfs ‘n fondsinsameling gereël.
“Ek kan nie eens alles noem nie. Ek is bederf! Ek is so dankbaar daarvoor want ek kry nou hier en daar rekeninge. Ek het nie verwag dat die mediese fonds van dit nie sal betaal nie.
“Maar die Here het vir my voorsien deur die gemeenskap. Ek is so lief vir elkeen wat vir my ‘n geskenkie gegee het, ‘n gebed opgedra het.
“Ek was swak, en het amper uitgeklok, maar ek het deurgedruk van al die gebede. Met soveel gebede kan jy nêrens heen gaan nie. Die Here sal daai gebede beantwoord.”

Kelvin en Cyzelle het ses jaar gelede Grace Family Fellowship Nelspruit begin, nadat hulle vir sewe jaar by die AGS-kerk betrokke was.
“Ons het dit in ‘n gimnasium begin met 26 mense – die meeste familielede.”
Tans is daar sowat 400 mense op hul databasis, maar hulle kom en gaan en soos ‘n golf.
“Ons probeer hulle net Geesvervuld kry. Dit is my missie in die lewe, want as hulle vervuld is met die Gees van God kan hulle self by Hom hoor en begin groei. Dan het jy alles wat jy nodig het, en nog meer. Dan gaan jy verander, jy kan nie dieselfde bly nie.
“Vir my is dit ‘n plek van nuwe geboorte, waar jy kan water kry en nuwe olie. Ons hou glad nie aan mense vas nie.”
Sy kan nie wag om terug te gaan nie. “Dit is nou vyf weke sedert die operasie. Op ses weke wil ek weer by die kerktrappies opstap.”

 


×