100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vermeende gewapende rowers vasgetrek na roof op Badplaas-polisiestasie

Written by on October 23, 2020

Drie verdagtes wat na vermoede die Badplaas-polisiestasie in September beroof het, is aangekeer.
Die Mpumalanga Valke se kapt. Lloyd Ramovha, sê hulle is gister in Mbombela vasgetrek.
Die blitspatrollie en Elukwatini-speurders het saam met die Valke die manne in hegtenis geneem. Hulle is onderskeidelik 36, 37 en 44 jaar oud.
Die gesteelde vuurwapens, ‘n R5-aanvalsgeweer en twee pistole, is ook gekonfiskeer. Dit sal forensies getoets word om te bepaal of dit intussen in ander misdade gebruik is.
Een van die mans word tans slegs ondervra. Die ander twee is positief met die misdaad verbind deur die vuurwapens in hul besit.
Hulle sal na verwagting vandag nog in die Calcutta-landdroshof verskyn.
Hulle staar klagte van gewapende roof en die besit van die staat se vuurwapens in die gesig.

Die polisie het destyds gesê dat drie mans om ongeveer 00:39 op 12 September die stasie met pistole betree het.
Die twee polisielede wat aan diens was, se dienswapens is by hulle afgeneem.
Die R5-aanvalsgeweer en kontant is uit die kluis geneem.
Die verdagtes het daarna te voet gevlug. Geen skote is tydens die roof afgevuur nie.
Volgens Ramovha het die vroegoggend-roof só plaasgevind. Een verdagte het glo die hek van die polisiestasie genader en om hulp geroep omdat hy kwansuis besig was om aangeval te word.
“Toe die ongewapende polisiebeamptes hom probeer help, het ‘n tweede aanvaller te voorskyn gekom,” sê Ramovha.
“Hulle het vuurwapens op die polisielede gerig en aangedring dat die kluissleutels aan hulle oorhandig word.”
Die nasionale hoof van die Valke, luit. gen. Godfrey Lebeya, het die arrestasies verwelkom.


×