100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Twee vasgetrek na moord op Megan Griesel

Written by on November 6, 2023

Twee verdagtes is gearresteer weens die moord op Megan Griesel (20) in Lydenburg.

‘n Groep van ongeveer 10 gewapende aanvallers het na bewering vroeg die oggend op 21 Oktober twee vulstasies beroof en ‘n drankwinkel in die dorp besteel.

Volgens die polisie het hulle lukraak skote afgevuur.

Griesel, wat verby gery het, is getref.

Beide beskuldigdes is 27 jaar oud en het Vrydag reeds in die hof verskyn.

Die een is Woensdag in Masoyi gearresteer. Hy verskyn môre weer in die Lydenburg-hof.

Die tweede beskuldigde is Donderdag in Kanyamazane aangekeer. Hy was na bewering in besit van ‘n vuurwapen en ammunisie. Hy het Vrydag in Kabokweni verskyn.

Hulle staan tereg op aanklagte van onder meer moord, roof en oortreding van die Wet op Plofstowwe sowel as poging tot moord, inbraak by ‘n sakeonderneming en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie.

“Hul identiteite word weerhou om te verhoed dat die ondersoek belemmer word,” sê die polisiewoordvoerder, kol. Donald Mdhluli.

Nog verdagtes word gesoek.

Kersligseremonie vir vermoorde Megan Griesel vanaand, 27 Oktober 2023

‘n Kersligseremonie word vanaand by Hoërskool Lydenburg vir Megan Griesel gehou.

Die 20-jarige is in die vroeë oggendure van Saterdag in Lydenburg doodgeskiet toe sy na vermoede verby ‘n groep gewapende rowers gery het.

Volgens die polisie het die verdagtes ‘n geriefswinkel by ‘n vulstasie beroof en toe op ‘n naburige sakeonderneming toegeslaan.

Niemand is nog in verband met die voorval aangekeer nie.

Haar gedenkdiens vind Sondag by die NG Kerk Suid in Lydenburg plaas.

Sien ook: Verdagtes gesoek wat Adriano Dos Santos vermoor


×