100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Skoolkalender steeds nie uitgeklaar

Written by on May 1, 2020

Die land se gr. 12- en gr. 7-leerlinge kan voorlopig op 1 Junie terugkeer na die skoolbanke.
Dít is mits hul skole aan die regering se vereistes rondom Covid-19 voldoen.
Die ministers van hoër onderwys en opleiding asook basiese onderwys, dr. Blade Nzimande en Angie Motshekga, het Donderdagmiddag meer detail gedeel oor hoe onderwys in 2020 sal voortgaan.

Beide departemente sal egter nog die presiese uiteensetting van die nuwe skoolkalender publiseer.
Vir nou is die meeste detail voorstelle, onderhewig aan onder meer die kabinet se goedkeuring.
Nzimande het verrigtinge geopen deur te verduidelik dat die akademiese jaar gered moet word – maar nie ten koste van lewens nie.
Motshekga het baie moeite gedoen om te verduidelik hoe wyd sy met belanghebbendes gekonsulteer het.
Sy het bevestig dat skoolkinders in fases volgens hul grade na die spreekwoordelike hok sal terugkeer.
Sy het wel ook bevestig dat haar departement gesigmaskers aan alle leerlinge sal voorsien.

Klasse sal daagliks ontsmet moet word, leerlinge moet hul hande saniteer wanneer hulle inkom, en hulle beweging sal beperk wees.
Skole met uitdagings in terme van water, sanitasie en spasie sal nie mag heropen nie.
Elke provinsie, distrik en skool moet egter met hul eie, praktiese, opvangprogramme, vorendag kom.
Matrieks se winter-hereksamen is uitgestel, en alle kandidate sal die eksamen in November saam skryf.
Nzimande het aangekondig dat universiteite en kollege-kampusse nie in die nuwe fase 4 van inperking gaan heropen nie. Dít geld vir privaat en openbare instansies.

Hoofsaaklik finalejaar- mediese studente sal onder streng voorwaardes kan terugkeer na hul kampusse.
Intussen werk die departement eerder daaraan om afstandonderrig wyer beskikbaar te maak.
Hulle onderhandel byvoorbeeld vir goedkoper datapakette vir studente om dit moontlik te maak.

Die departement sal ook gedurende Mei fasiliteite voorberei vir die toekomstige heropening van kampusse deur dit te ontsmet.
Die departement van hoër onderwys beplan ook die grootskaalse opleiding van werkers in die voorste linie teen die nuwe koronavirus, veral diegene in gesondheid.

Befondsing vir bykans 18 000 sulke werkers is beskikbaar gemaak. ‘n Verdere 1 210 werklose maatskaplike werkers sal ook oor die volgende 12 maande ingespan word om gemeenskappe by te staan.
Nzimande het tydens die vraag-en-antwoord-sessie gesê dat ten minste 10 van die land se 26 universiteite sal sukkel om seker te maak dat geen student agtergelaat word nie, en dat die departement hulle daarin sal ondersteun.


×