100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Berry Legg van Kaapsehoop is geroepe om te gee

Written by on May 3, 2020

Soos alle ander besighede moes Berry Legg se teetuin en gastekamers op Kaapsehoop ook sluit vir die tydperk van inperking. Moenie glo Berry het agteroor gaan sit nie. Gou het daar op die dorp se WhatsApp-geselsgroep boodskappe van Berry deurgekom waarin sy vertel van brood wat sy gebak het, wat afgehaal kan word. In die vyf weke het dit nie net by brood gebly nie. Daar was al soppe, bredies, roerbraaigeregte, muffins en ander voedsame kos beskikbaar gestel vir die dorpenaars om gratis af te haal.

Die laaste ding wat sy wil hê, is dat mense moet dink sy doen dit om raakgesien te word, sê sy gou. Dit was iets wat die Here op haar hart gelê het, en in volle vertroue dat Hy sal voorsien, het sy aan die werk gespring. “As ek sien wat ander mense doen, is hierdie bloot net ʼn druppel in ʼn emmer,” gesels Berry telefonies oor hierdie liefdesdaad. “Ek het nog altyd geglo ʼn mens help waar jy kan, met wat jy het, en hoe dit vir jou moontlik is, en dan vertrou jy op God.

Ek het al in die verlede verduidelik dat dit deel van my DNS is om mense kos te gee, maar eintlik meer as dit. Ek hou daarvan om hulle te bederf. Vir die mense wat nou swaarkry, is hierdie ʼn manier om ook ʼn bietjie bederf te word. Wanneer die restaurante nou oopmaak en mag aflewer, gaan ek op my klein manier steeds bly doen wat ek doen. Die mense wat tans finansieel in ʼn moeilike situasie is sal in elk geval nie kan bekostig om vir hulle wegneemetes te bestel nie.” Berry het met die hulp van ʼn paar ander inwoners ook meer as sewentig materiaalmaskers gemaak wat sy gratis aan werkers versprei het.

As deel van haar To twine with Love-besigheid, maak Berry ook maskers wat sy verkoop. Van hierdie maskers is pragtige symaskers wat baie sjiek en stylvol is. Al die maskers kan gewas word en voldoen aan al die standaarde. Sy hoop om ander ook te inspireer om self maskers te maak vir mense wat nie kan nie of wat nie in staat is nie. ʼn Mens kan net dankbaar wees vir mense soos Berry wat in moeilike omstandighede steeds die lewe vir ander ligter wil maak.

Besoek gerus Berry se Facebookblad om meer van haar besondere maskers te sien: https://www.facebook.com/totwinewithlove/


×