100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Reën bring nog geen verligting vir Barberton nie

Written by on October 8, 2020

Goeie reën die afgelope weke was maar ‘n spreekwoordelike druppel in die emmer vir Lomati-dam.
Dié dam voorsien Barberton van water. Dit staan tans op ongeveer 17%.
Raadslid Philip Minnaar verduidelik dat die damvlak met ‘n punt of wat kon verbeter het, maar dit is nie genoeg nie.
Die area het die afgelope ruk tussen 55 mm en 60 mm neerslag gekry.
Volgens Minnaar was die invloei na die dam baie swak. “Dit was hoofsaaklik baie sagte reën wat ingetrek het, en nie in die dam geloop het nie.”

Hy voeg by dat Barberton se streng waterbeperkings nie gelig sal word tot die dam ten minste 50% tot 70% vol is nie.
Beurtwater bly dus steeds inwoners se voorland.
Barberton het reeds sedert Augustus beurwater. Dit het egter in September strenger geword.
Die meeste areas het nou twee dae per week vir ‘n volle dag glad nie water in hul krane nie.
Die ander damme in die Laeveld het volgens die jongste beskikbare data die afgelope week ook ‘n minimale verskil in hul damvlakke gesien.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) voorspel egter dat somerreënvalstreke hierdie jaar tog ‘n bogemiddelde reënseisoen kan verwag.
Hulle verwag ook verspreide donderbuie oor die Laeveld hierdie naweek.

Barberton se beurtwaterskedule is soos volg:
Maandag en Woensdag: Soetdoring-, Paul Davies-, Norman Nader-, Henry Nettman- en Greestonestraat asook Verulam en Dixie farm en Hoerskool.
Maandag en Vrydag: Bland-, Boom-, Open-, Gospel- en Dwarsstraat asook ‘n deel van Sheba- en Steinstraat sowel as Burgerville en Cathyville
Dinsdag en Donderdag: Deel van De Villiers- en Crownstraat, Lomas-, Rimer- en Burgerstraat.


×