100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mbombela-pastoor lei gebedsaksie na Uniegebou

Written by on October 9, 2020

Plaaslike pastoor, TJ Maré, lei môre weer ‘n gebedsaksie na die Uniegebou in Pretoria.
Dit is veral teen plaasmoorde, maar ook vir die land in geheel.
Maré was op 29 Augustus deel van die sowat 40 000 motorfietsryers wat by die Uniegebou teen plaasaanvalle en rasisme protes aangeteken het.
Hy is as die stigter van die 911-Riders egter geen vreemdeling in die lei van gebed en bewusmaking oor plaasaanvalle nie.
Die groep het in 2017 en 2018 die land met hul motorfietse platgery om landelike gemeenskappe te besoek, waar hulle saam met boere en die polisie gebid het.
Maré sê nou prontuit dat die regering die land se probleme nie kan oplos nie.
Hy het almal genooi om saam te bid, al is dit in hul huise.

“Almal kan nie Pretoria toe ry vir die gebed nie. Ons wil mense wel vra om tussen 10:00 en 12:00 op altwee knieë te gaan en te bid – vir die land, die regering, die boere en korrupsie.”
Susan de Bruyn sê sy het die afgelope week opnuut die moord op háár seun, Deon de Bruyn, herleef nadat die jong voorman, Brendin Horner, in die Vrystaat vermoor is.
Chaos het Dinsdag by die hof in Senekal losgebars tussen die polisie en boere wat die verskyning van die twee verdagtes bygewoon het.
Boere landwyd beplan om Vrydag, wanneer die mans se saak volgende voorkom, weer verrigtinge by te woon.
Susan se Deon is twee jaar gelede op ‘n plaas in Strydomblok vermoor. Hy was 25 jaar oud.
Destyds het net ‘n klein groepie mense hul ondersteuning gewys by die eerste hofverskyning van die sewe mans wat daarvan beskuldig is dat hulle De Bruyn in sy huis koelbloedig doodgeskiet en sy werkgewer, Estelle Jansen, verskeie kere gewond het.
Hulle word aangekla van onder meer sameswering om ‘n rooftog te pleeg, roof met verswarende omstandighede, die rig van ‘n vuurwapen, besit van ‘n ongelisensieerde wapen en ammunisie, moord en poging tot moord.
Die saak duur voort. Die mans verskyn weer op 11 November in die Barbertonse Rondgaande Hooggeregshof.
Susan sê die afgelope week was vir haar swaar, maar sy is dankbaar dat mense uiteindelik groter aandag aan die kwessie van plaasmoorde gee.

“Dis asof jy dit herleef elke keer, maar ek is verskriklik dankbaar dat dinge nou begin ‘n bietjie momentum kry. En mense ‘n bietjie meer aandag gee daaraan. Ek voel ons moes dit lankal gedoen het.”
Sy voeg by dat dit soms vir haar voel asof mense vergeet haar seun is dood. “Ons moet hul lewens konstant herdenk.”


×