100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Probleme met inentings in Ehlanzeni nou uitgestryk

Written by on May 18, 2021

Die uitrol van fase 2 van Mpumalanga se gesondheidsdepartement se inentingsprogram gister het allermins vlot verloop in Ehlanzeni-distrik.
Mense wat geregistreer het en per SMS ingelig is om hul inentings by Rob Ferreira- en Tonga-hospitaal te ontvang, is weggewys.
Mense ouer as 60 word tydens dié fase teen Covid-19 ingeënt.
Dumisani Malamule, woordvoerder van die provinsiale departement, sê die verdunningsmiddel waarmee die Pfizer-entstof gemeng moet word voor dit toegedien kan word, is laat afgelewer by dié twee hospitale. Elders in die provinsie het die inentings vlot verloop.
By Rob Ferreira en Tonga gaan inentings vandag voort. Gister se pasiënte sal ook vandag gehelp word.
Malamule sê hulle is gevra om terug te kom. “Ons het ons spanne verdubbel om die agterstand in te haal,” sê hy.

Die departement het om verskoning gevra vir die vertraging.
Mpumalanga het 7 020 dosisse van die Pfizer-entstof ontvang. “Ons ontvang dit in klein hoeveelhede omdat dit baie koud gestoor moet word. Hoe vinniger ons dit opgebruik, hoe gouer kan ons nog ontvang.”
Volgens hom is ‘n bietjie meer as 70% van gesondheidswerkers in Mpumalanga tydens fase 1 van die program ingeënt, en gaan hulle daarmee voort tydens fase 2.
Dit is noodsaaklik om te registreer om die entstof te kan ontvang.
WhatsApp die woord “register” na 0600-123-456 of SMS *134*832*jou ID nommer# of *134*832# as jy die ‘n ID-nommer het nie. Dit vereis nie lugtyd of data of ‘n slimfoon nie.
Vir enige navrae, kontak 0800-029-999. Die inentings is ook gratis.
LUR vir gesondheid, Sasekani Manzini, het by die afskop van die program in Victor Khanyi-munisipaliteit gevra dat mense diegene help wat nie gemaklik is met die gebruik van sulke tegnologie nie, om te registreer.


×