100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

AfriForum begin slaggate rondom Witrivier herstel

Written by on May 18, 2021

AfriForum se Witrivier-tak het vandeesmaand ‘n slaggatherstelprojek afgeskop. Altesaam 40 sakke teer is gebruik om slaggate in Danie Joubert- en Drakensbergstrate op te vul.
Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, sê hierdie twee paaie is nou volledig herstel. Daar is verder ‘n magdom soortgelyke projekte op pad vir ander dorpe in die omgewing.

“Daar is betalings gemaak vir teer in Nelspruit (Mbombela), Witrivier, Belfast, Malalane en Machadodorp,” sê hy. “Dit word befonds deur ons strukture op grondvlak.”
Al die lede in die verskeie dorpe se fondse word betaal in ‘n rekening wat deur die tak bestuur word en gebruik word om verskeie projekte in hul dorp aan te pak.

Bekker sê in die meeste gevalle word die werk gedoen deur plaaslike vrywilligers wat op hul strukture dien, hoewel hulle soms die werk uitkontrakteer.
Die doel van die projek is om paaie waarop voertuie teen ’n hoë spoed ry, te herstel om skade aan voertuie te verminder en motoriste se lewens te beveilig.
Volgens Dawie Ruthven, voorsitter van Witrivier se AfriForum-tak, veroorsaak ‘n tekort aan onderhoud groot skade aan voertuie.
“Ons sal nie toekyk hoe ons pragtige omgewing verwoes word deur wanadministrasie nie,” sê hy.
Bekker voeg by dat Mbombela-munisipaliteit tans wel aandag aan die paaie in Witrivier gee.
“Ons fokus op die paaie rondom die dorp. Die hoofroetes is maar ‘n gemors. So help ons om toeriste ook ‘n bietjie te beskerm.”


×