100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Pres. Cyril Ramaphosa kondig ʼn reuse-reddingspakket aan

Written by on April 22, 2020

President Cyril Ramaphosa het op Dinsdagaand 21 April ʼn omvattende reddingspakket van R500 miljard aangekondig om verligting te bring vir die ekonomie sowel as sosiale omstandighede in die land. Die reuse-impak van Covid-19 op Suid-Afrika se ekonomie en sosiale omstandighede noodsaak ʼn ingryping van die regering. In ʼn regstreekse televisieboodskap vanuit Pretoria het hy aangekondig dat hierdie reddingsplan in drie fases uitgerol sal word. ʼn Hulppakket ter waarde van R500 miljard sal help om die impak van die Covid-19 inperkingstyd te versag. Dit word geoormerk om honger te help hokslaan, verligting te bring vir maatskaplike probleme maar ook om verligting te bring aan ondernemings en diegene wat hulle werk gaan verloor weens die reuse-impak van Covid-19.

Hy het gesê dat sowat R130 miljard van die huidige begroting deel sal vorm van die R500 miljard hulppakket. Hy was nie baie duidelik oor waar die res van die geld vandaan sal kom nie. Hy het wel genoem dat die Wêreldbank, die Internasionale Monetêre Fonds, die Brics-ontwikkelingsbank en die Afrika-ontwikkelingsbank genader is vir hulp hiermee. Hy het gesê dat die geld in die eerste plek gebruik sal word gesondheidsaspekte van die pandemie te help takel. Dit sluit beskermende toerusting en voorraad vir mediese personeel en hospitale in. Hy het ook aangekondig dat R20 miljard aan munisipaliteite gegee sal word vir noodwaterverskaffing, verbetering van sanitasie-geriewe en skuilings vir haweloses.

Pres. Ramaphosa het gesê dat die kabinet besluit het op ʼn tydelike koronavirus-toelae vir ses maande wat aan die mees weerloses betaal sal word. Die kindertoelae styg in Mei met ʼn bykomende R300 en in Junie en Julie met ʼn bykomende R500. Hy het ook gesê dat ʼn spesiale toelaag van R350 vir die volgende ses maande aan werkloses betaal sal word wat nie een of ander sosiale toelaag kry nie. Ramaphosa het toegegee dat veel meer gedoen sal moet word om die land se kosverspreidingsvermoë te verbeter. Hy het herhaal wat hy in sy brief gesê het dat die regering bitter teleurgesteld is in diegene wat hierdie kospakkieskemas vir hulle eie gewin misbruik en bygevoeg dat dit nie geduld sal word nie.

In die volgende twee weke sal die departement van sosiale ontwikkeling en die Solidariteitsfonds ook meer as 250 000 kospakkies aan behoeftiges voorsien. Pres. Ramaphosa het ook finansiële ondersteuning beloof aan kunstenaars, tegniese personeel en atlete. Selfs diegene wat ʼn lewe maak uit die herwinning van vullis sal bygestaan word. R200 miljard word beskikbaar gestel om maatskappye wat ʼn omset van minder as R300 miljoen per jaar het en wat sukkel, by te staan. Dit sal sowat 700 000 maatskappye en drie miljoen werknemers help. Maatskappye wat tot R100 miljoen per jaar verdien sal ook gehelp word deur middel van belastingherleiding. Hulle moet by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) daarvoor aansoek doen. Diegene wat geld vir die Solidariteitsfonds geskenk het of nog wil skenk, kan ook 10 % daarvan by die SAID terugeis.

Die president het gewaarsku dat om die inperkingstyd te vroeg op te hef, sal beteken dat die risiko vir die verspreiding van die virus weereens sal verhoog en die goeie resultate van die inperkingstyd ongedaan maak. Op Donderdagaand 23 April sal hy ʼn aankondiging maak oor hoe die uitfasering van die inperkingstyd sal verloop. Pres. Ramaphosa is vol vertroue dat die Suid-Afrikaanse ekonomie uiteindelik sal herstel en het sy boodskap met die volgende woorde afgesluit: “Ek glo in die krag van Suid-Afrikaners wat deur die geskiedenis van ons land getoon het dat hulle enige uitdaging kan oorkom. Suid-Afrika sal die pandemie ook oorwin. Ons sal weer opstaan en voorspoedig wees.”

Lees sy volledige toespraak hier: https://sacoronavirus.co.za/2020/04/21/extraordinary-budget-for-coronavirus-response/


×