100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mpumalanga wy R1,2 miljard spesiaal aan Covid-19

Written by on July 22, 2020

Die provinsiale regering het meer as ‘n miljard rand bewillig om die Covid-19-pandemie te beveg.
Pat Ngomane, LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, het Dinsdagoggend ‘n spesiale aanpassingsbegroting aangekondig.
Daarvolgens is ‘n addisionele R1,2 miljard aan Mpumalanga se gesondheidsdepartement toegedeel om aan Covid-19 te spandeer.
Volgens Ngomane moet meer nou met minder gedoen word en fondse moes noodgedwonge herprioritiseer word.

Covid-19 het die provinsie se inkomstestroom negatief geraak en die nasionale regering het R706,6 miljoen in toelaes herprioritiseer om self op Covid-19 te spandeer.
Mpumalanga het wel R266,4 in voorwaardelike toelaes ontvang.
Ngomane het R1,6 miljard van die provinsie se begroting herprioritiseer, hoofsaaklik om op Covid-19 te fokus.
Volgens Letshela Jonas, woordvoerder van die provinsiale tesourie, is geen departement ontsien nie.
“Ons moet fokus op die pandemie met die hulpbronne tot ons beskikking,” sê hy.
Slegs die departemente van gesondheid en behuising het addisionele fondse ontvang. Alle ander begrotings is besnoei.
Die gesondheidsdepartement het 75% van die fondse ontvang vir beskermende kleredrag, ventilators, die aanstelling van personeel en voorbereiding en toerusting van fasiliteite.
Jonas verduidelik dat die departement van behuising ‘n sleutelrol speel in water- en sanitasieprojekte. Hul gebroting is daarom met R6,7 miljoen vermeerder.
Die onderwysdepartement se fondse is egter met R548,8 miljoen besnoei, nadat hulle verlede week vir meer befondsing gevra het, juis weens die pandemie.
Daar was wel R124 miljoen vir water- en sanitasie by skole beskikbaar. Die departement moes verder hul eie begroting herprioritiseer om die uitdagings wat Covid-19 stel, aan te spreek.
Volgens Ngomane se toespraak is ‘n totaal van R182,7 miljoen bewillig vir waterprojekte in gemeenskappe en skole.
‘n Spesiale R12,1 miljoen is vir droogtehulp aan die landbousektor toegedeel.
Die provinsiale regering sal in November weer hul gewone jaarlikse aanpassings aan die begroting aankondig.


×