100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Toerismeoperateurs maak hul stemme dik oor inperkingsregulasies

Written by on July 22, 2020

Toerisme rolspelers sê hulle wil nie aalmoese van die regering hê nie, hulle wil bloot werk.
Toerismeoperateurs het Woensdagoggend in hul massas teen die inperkingsregulasies betoog deur stadig in konvooi te ry vanaf Casterbridge-sentrum in Witrivier na Mbombela.
Hylton Langley, ‘n toergids wat die inisiatief begin het, het ‘n petisie aan die LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, Pat Ngomane, by die regeringsgeboue oorhandig.
Dit is deur plaaslike mense wat in toerisme werk, onderteken.
In die petisie vra hulle dat die bedryf so spoedig moontlik toegelaat word om te heropen.
Hulle wil hê dat interprovinsiale reis weer moontlik gemaak word, en dat internasionale reisigers teen September weer Suid-Afrika kan besoek.

Langley sê die oopmaak van plaaslike toerisme sal help, maar om die meeste mense se oorlewing te verseker, is internasionale besoekers nodig.
Hy voeg by dat hulle na vyf maande van geen inkomste verdien desperaat is, en noodgedwonge afleggings in hul maatskappye moes doen.

 

Oupa Pilane van die Kruger-Laeveld-sakekamer voer aan toerisme is dood, maar dit kan herleef.
“Ons het baie hardwerkende mans en vroue wat toegewyd is daaraan om die bedryf weer op te bou. Al hierdie mense het ondernemings met harde werk begin.


“Ons wil net hard werk en weer werk skep en toerisme groei. Ons kan dit doen,” sê hy.
“Ons verstaan daarom nie hoekom ons toegemaak gehou word nie. Ons is die veiligste bedryf, ons moes eerste oopgemaak het.”

Motors, safari-voertuie, en selfs verskeie CityBug-busse was deel van die optog. Die meeste het borde op hul voertuie aangebring met kentekens soos “Red toerisme”, “Toerisme bloei” en selfs “Ek betaal al vir 30 jaar getrou belasting, laat ons werk” daarop.

Almal is dit eens dat nie sin maak dat taxi’s 100% mag vol wees nie, maar oop safari-voertuie mag glad nie.
Manny De Freitas, die DA se skaduminister van toerisme, was ook daar. Hy het Langley geloof vir wat hy reeds vermag het, en gesê ander provinsies, soos Noordwes en KwaZulu-Natal beplan weens die Mpumalanga-aksie dieselfde.
“Die regering verwoes stelselmatig die hele bedryf. Volgens statistiek het die helfte van mense reeds hul werke verloor.
“Ek hoop hierdie bewegings hou aan om druk op die regering vol te hou.”

Pilane het weereens gesê dat die regering se inperkingsregulasies geensins logies is nie.
“Ons wil gehoor word. Hulle moet luister.”
Langley het bygevoeg: “Ons gaan nie stop nie. Ons kan nie. Ons het niks meer oor nie.”

 

 

 

 


Ngomane het sy versekering gegee dat hy alles in sy vermoë sal doen om toerisme heropen te kry.
Hoewel dit nie in sy hande, as LUR, is om die bedryf te heropen nie, het hy beloof dat hy sal seker maak die petisie kom Woensdag nog by die besluitnemers uit.
“Ek slaap ook nie,” het hy die skare verseker.


×