100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mannejag duur voort na ma en seun op plaas vermoor is

Written by on April 26, 2021

‘n Grootskaalse soektog na moordverdagtes duur onverpoosd voort, na Annemarie Botha en haar seun Ruan Britz Saterdag op hul plaas in die Croc Valley-area buite Mbombela vermoor is.
Hul liggame is die aand deur haar man, Fanie Botha, aangetref toe hy terug by die huis gekom het nadat hy op die plaas patrollie gery het.
Volgens die polisie is hulle blykbaar met iets geslaan. Die nadoodse ondersoek sal vandag uitgevoer word.
Die huis was glo geplunder. Die polisie het bevestig dat verskeie items uit die huis gesteel is. ‘n Saak van moord en roof word ondersoek.
Botha was ‘n onderwyser by Calvary Christian School. Britz was in sy vroeë dertigs en was verstandelik gestrem.
Die LUR vir gemeenskapsveiligheid, Vusi Shongwe, het die voorval veroordeel. Hy het ‘n beroep op die polisie gedoen om te verseker die skuldiges word dringend aangekeer.
Hy sê hy is bekommerd omdat dit kort na die moord op twee plaasbewoners naby Piet Retief gebeur het. Die polisie het ook hul kommer oor plaasmoorde in Mpumalanga uitgespreek.
AgriSA het gevra vir kalmte in Piet Retief waar die borgtogaansoek in verband met die skietdood van die twee broers vandag in die landdroshof voortgaan. Vyf mans word aangekla.
Die polisie het gesê samekomste buite die hof sal nie meer toegelaat word nie, na ses verdagtes verlede week aangekeer is vir geweld rondom die hofsaak. Kol. Donald Mdhluli sê vier is borg toegestaan, en twee bly in aanhouding tot 6 Mei.
Shongwe het sy medelye met die families uitgespreek. Waarnemende polisiekommissaris, maj. Gen. Thulani Phahla sê alle hulpbronne word ingespan en ‘n ondersoekspan is saamgestel om die verdagtes in die Mbombela-moorde vas te trek.
Enigiemand met inligting is gevra om speurder kol. Ernest Maoka te kontak by 082-318-9843.


×