100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Maatskappy dok meer as R300 000 op oor pensioengeld

Written by on March 17, 2021

Gerhard Kolesky en Jacob Zongezile Bholosha is Maandag in Middelburg vrygespreek op 125 klagte van die oortreding van die Pensioenfonds-wet.
Die maatskappy waarin hulle onderskeidelik ‘n eienaar en direkteur is, GK Steel Profiling, is egter met R12 500 beboet.
Volgens die Valke het die maatskappy tussen Desember 2006 en Februarie 2010 nie werknemers se bydraes aan die metaalbedryf-fonds oorbetaal nie, al het hulle dit afgetrek. Woordvoerder, kapt. dineo Sekgotodi, sê dié bedrag beloop R198 317.
In ‘n siviele saak moes GK Steel in September R297 897 met rente betaal.

Die polisie in Mpumalanga het ook ‘n mannejag van stapel gestuur na verdagtes wat vier mans in die taxi-bedryf in verskillende voorvalle in Nkangala-distrik vermoor het die afgelope maand.
Die 44-jarige Jeremia Nkosinathi Chabangu is Maandag deur ‘n groep gewapende mans aangeval in Kwamhlanga. Hy was geparkeer toe die verdagtes, in ‘n wit VW Golf 7, op hom losgebrand het.
Maandagaand is Piet Mahlangu (65) in sy huis in Boekenhouthoek naby Kwaggafontein geskiet deur twee gewapende mans wat sy huis betree het. Sy vrou is ook in die been gewond. Hulle het na bewering ‘n wit Toyota Quantum bestuur.
Kenny Sipho Mahlangu (31) is op 7 Maart ook in Tweefontein doodgeskiet. Hy is glo met ‘n Toyota Run-X agtervolg waaruit sy aanvallers op hom gevuur het.
France Oupa Manamela (39) is ook in Tweefontein, by die ou taxi-staanplek, op 1 Maart doodgeskiet. Volgens die polisie is hy na vermoede deur vier verdagtes wat ‘n silwer VW Polo gery het, aangeval.
Die polisie het die publiek gevra vir inligting wat kan help in hul ondersoek. Kontak speursersant Jacob Zulu by 076-658-5463 (Tweefontein), speursersant David Kekana by 082-948-8754 (Kwamhlanga) en AO Bheki Motambo by 072-462-6923 (Kwaggafontein).


×