100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

R207 miljoen vir e-leer in Mpumalanga-skole

Written by on March 17, 2021

Die provinsiale regering se begroting sal na verwagting oor die volgende drie jaar met R16,4 miljard krimp.
Die meeste besnoeiding sal in die vergoeding van werknemers wees, volgens LUR vir finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme.
Vusi Mkhatshwa het gister die begroting vir die finansiële jaar wat op 1 April begin, in die wetgewer voorgelê.
Die grootste deel van die geld sal aan onderwys en gesondheid bestee word.
‘n Spesiale allokasie van R206,9 miljoen is bewillig om e-leer in skole te begin implementeer.

Mkhatshwa het onderneem dat die tesourie saam met die departement van samewerkende regering vir Thaba Chweu-, Emalahleni-, Lekwa-, Govan Mbeki- en Msukaligwa-munisipaliteite sal ondersteun om finansiële herstelplanne te implementeer.
Hy het ook gesê hulle sal saam met die ouditeur-generaal werk om te verseker dat elke sent in die begroting spandeer word waarop dit bedoel is.
Hy voeg by dat die pandemie ‘n rampspoedige impak op toerisme en werksverliese in Mpumalanga gehad het.
Die provinsie se verlies aan besoekers word op sowat 73% geskat en spandering deur toeriste op 81,2% van 2019 se waarde.
Werksverliese in die informele sektor beslaan 30% van die totale in Mpumalanga wat 96 382 verloor het in 2020. Meer as 30 000 was in konstruksie.

By gesondheid is R150 miljoen oorgedra van 2020/21 vir infrastruktuur, veral by Mapulaneng-, Middelburg- en Bethal-hospitale.
R341 miljoen is toegeken vir werk aan die Mpumalanga varsproduktemark. R20 miljoen is om die Nkomazi Spesiale Ekonomiese Sone (SEZ) te begin.


×