100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

LUR pleit dat motoriste versigtig bestuur

Written by on December 23, 2020

Mpumalanga se departement van gemeenskapsveiligheid het ‘n beroep op motoriste gedoen om baie versigtig te bestuur.
Die LUR, Gabisile Shabalala, sê daar is reeds 73 mense op die provinsie se paaie dood sedert 1 Desember, die begin van die feesseisoen. Dit is meer as verlede jaar in dieselfde periode.
Nasionaal het die aantal sterftes sover ietwat afgeneem, volgens die minister van vervoer, Fikile Mbalula. Hy het Dinsdag aangekondig dat daar tussen 1 en 20 Desember, 690 mense op Suid-Afrika se paaie dood is, teenoor 732 in dieselfde tyd verlede jaar.
Shabalala het ‘n beroep op motoriste gedoen om baie versigtig te wees soos verkeersvolumes toeneem, want 23 en 24 Desember word as van die besigste reisdae van die maand beskou.

“Ons wil dat almal veilig by hul bestemmings arriveer. Kom ons wees geduldig met mekaar.”
Van die besigste paaie is die N2, N17, N4, N3, N11, R573, R38, R555 en R568 wat Mpumalanga met KwaZulu-Natal, Gauteng, Limpopo, Eswatini en Mosambiek koppel.
Hoewel sigbare polisiëring verskerp is, hang dit steeds van individuele bestuurders af om die padreëls te gehoorsaam.
Shabalala het bestuurders herinner om gereeld ruskanse te neem op lang ritte.
“Dit is elke bestuurder se verpligting om te verseker hul voertuie is padwaardig, en hulle moet ook seker maak hulle is fisies geskik om lang afstande te bestuur. Probeer om nie in die aand te ry nie, want die meeste noodlottige ongelukke gebeur dan,” sê sy.
Volgens die departement se woordvoerder, Moeti Mmusi, is meer as 99 000 voertuie tot dusver gestop. 16 000 kennisgewings is uitgedeel vir verskeie oortredings. Sowat 21 mense is in hegtenis geneem vir dronkbestuur.
Daar is reeds lang vertragings by Lebombo en Ressano Garcia-grensposte in Komatipoort ervaar. Mense word aangeraai om hul reise daarvolgens te beplan.



×