100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Tieners vasgetrek wat hulself glo as polisiemanne voordoen

Written by on January 4, 2021

Drie minderjariges van 17 jaar oud sal na verwagting vandag saam met ‘n 18-jarige man in die eMalahleni-landdroshof verskyn op klagte van huisbraak.
Die vier het hulself op 29 Desember glo as polisiebeamptes vermom en met ‘n speelgoed-vuurwapen by twee huise in die Lynnville-omgewing van Witbank mense in hul huise van kontant en persoonlike besittings beroof.
Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder, kol. Donald Mdhluli, het hulle in ‘n Ford Fiesta gevlug wat aan een van die verdagtes se afgestorwe pa behoort het.
Hulle het na bewering ook by ‘n ander huis ingebreek waar niemand tuis was nie. ‘n Mannejag het tot hul arrestasie gelei.
Die polisie het op die voertuig beslag gelê, sowel as op ‘n speelgoed-vuurwapen, DVD’s, en twee weerkaatserbaadjies met onderskeidelik die SAPD en ‘n sekuriteitsmaatskappy se kentekens.
In ‘n afsonderlike voorval is drie gewapende mans van tussen 33 en 40 jaar oud, Saterdag in Sabie aangekeer, kort nadat hulle glo ‘n 40-jarige man en sy gesin in hul huis aangehou en beroof het.
Volgens Mdhluli het hulle kontant sowel as persoonlike items gesteel en in die slagoffer se bakkie gevlug. Die polisie is ontbied en hulle het die mans vasgekeer.
“Toe hulle besef dat hulle omring is, het hulle op die polisie begin skiet. Die lede het teruggeskiet en een verdagte is gewond.
Hy is hospitaal toe geneem vir behandeling waar hy onder polisiebewaking aangehou word.
Twee vuurwapens en ammunisie is gekonfiskeer en vir ballistiese toetsing gestuur.
Die drie staar verskeie klagtes in die gesig, insluitende huisroof, poging tot moord, besit van ‘n gesteelde voertuig en die besit van ongelisensieerde vuurwapens.
“Nog klagtes kan moontlik bygevoeg word as hulle aan ander misdade gekoppel kan word,” sluit Mdhluli af.

Verskeie mense is ook tydens die feesseisoen in hegtenis geneem vir die oortreding van die inperkingsregulasies. Teen 1 Januarie is 86 mense in Mpumalanga reeds stywe boetes opgelê.
Van hulle is sowat 18 aangekeer omdat hulle nie gesigmaskers in openbare plekke gedra het nie, 35 vir die verbreking van die aandklokreël, en 31 wat nie maskers gedra het nie terwyl hulle die aandklokreël geminag het.
Nog twee mense is vasgetrek vir die verkoop of vervoer van alkohol. 


×