100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Kaapsehoop inwoners maak hul harte oop vir die mense van Stella-myn

Written by on April 4, 2020

Stella-myn, ʼn ou asbesmyn wat in die tagtigerjare gesluit is, is deesdae ʼn informele nedersetting. Hierdie nedersetting lê naby die Barberton-grondpad wat uit die Kaapsehoop-pad afdraai. Baie van die inwoners van Stella-myn is werksaam op Kaapsehoop en pendel daagliks vanaf die Barberton-afdraai tot in Kaapsehoop. Hulle is altyd afhanklik van saamrygeleenthede. Ander werk by boere in die omgewing en nog ʼn klomp by Mount Olive Chicken Farm. Brian Morris, voorsitter van die Kaapsche Hoop Erfenisvereniging, het besef dat hierdie mense in die tyd van inperking dalk erge nood sal ervaar. Hulle is ver van enige winkel af en met min karre op die pad is die kans vir ʼn saamrygeleentheid tot by ʼn winkel feitlik nul. Brian het aan die werk gespring en met ʼn WhatsApp-fondsinsamelingsprojek op Kaapsehoop begin. Binne ʼn paar dae het die inwoners van Kaapsehoop ʼn bedrag van R8000 ingesamel om kos te koop. R387.90 van die geld is ingesamel spesifiek vir hondekos vir die gemeenskap se honde. Op Vrydagoggend 3 Maart het Brian Morris, Nicola Wilson en Rod Alexander na Stella-myn gegaan om die kospakkies te oorhandig aan 50 van die nedersetting se inwoners wat hoofsaaklik op Kaapsehoop werksaam is. Die polisie van Ngodwana het hulle vergesel as deel van hulle gemeenskapswerk. Die mense het geduldig in ʼn lang tou gestaan en wag om ʼn kospakkie te kry. Elkeen het 5 kg mieliemeel, gemaalde sojabone, suikerbone, vrugte, groente en ʼn vars brood gekry en die gemeenskap het ook hondekos en kookolie gekry. Die brood is deur SPAR Ngodwana geskenk. Daar is nog geld in die fonds oor om by ʼn volgende geleentheid weer voorrade vir die mense van Stella-myn aan te vul. Nicola Wilson sê dit was ʼn ervaring wat haar opnuut dankbaar gemaak het vir haar eie omstandighede. “Ons moet baie dankbaar wees dat ons in die posisie is om ander te kan help. Dankbaarheid en verdraagsaamheid is so belangrik in hierdie moeilike tyd waarin ons ons nou bevind. Dit was goed om te sien dat die gemeenskap van Stella-myn nog gesond is en dat daar nog geen teken van enige besmetting met die koronavirus is nie.”


×