100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Interprovinsiale reis slegs vandag nog toegelaat

Written by on May 7, 2020

Reisigers het slegs nog vandag om vryelik interprovinsiaal te reis.
Vanaf Vrydag 8 Mei sal reisigers slegs met permitte in uitsonderlike gevalle, soos om begrafnisse by te woon, tussen verskillende provinsies mag beweeg. Woordvoerder van die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid, Moeti Mmusi, sê Mpumalanga se paaie was baie besig sedert die grasietydperk op reis verlede Vrydag ingestel is.
Hulle het in vyf dae 19 207 voertuie by die nagenoeg 14 padblokkades op Mpumalanga se paaie afgetrek.
Volgens Mmusi verwag hulle ‘n besig Donderdag op die paaie. Hy het reisigers gewaarsku dat interprovinsiale reis vanaf more weer vebode sal wees.
Hy het die publiek ook gemaan om by die inperkingsregulasies te hou.

LUR vir gemeenskapsveiligheid, Gabisile Shabalala, het ook ‘n beroep op mense gedoen om veilig te reis.
Volgens die regulasies mag mense slegs hierdie een keer provinsiale grense oorsteek.
Shabalala het ook ‘n pleidooi aan taxi-operateurs gerig om te verseker dat hulle geen passasiers sonder gesigmaskers toelaat nie.
“Die regering werk hard om die verspreiding van Covid-19 in te perk en vir ons om daarin te slaag moet almal die maatreëls, wat ten doel het om die pandemie hok te slaan, respekteer,” het sy in ‘n verklaring gesê.
Die LUR het mense ook gemaan om fisiese afstand te respekteer wanneer hulle inkopies doen.
Volgens Shabalala moet sake-eienaars en bestuurders maatreëls in plek stel om dit op hul persele toe te pas.
Mpumalanga het tans 57 bevestigde gevalle van die virus. Van hulle is 20 in Nkomazi en agt in Mbombela.

 


×