100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Laeveld ouers se stryd om hul kind by die huis te kry

Written by on May 7, 2020

Wat ʼn kort vakansie by ouma en oupa in Empangeni moes wees, het vir Genea da Costa (8) se ouers in ʼn nagmerrie ontaard. Marjolein da Costa het aan Radio Laeveld vertel dat haar kind gewoonlik in skoolvakansies by ouma-hulle gaan kuier. Hierdie Maartvakansie sou dieselfde gebeur. Sy en haar man, Rui het op 21 Maart vir Genea tot in Piet Retief gevat. Daar het haar ma-hulle gewag om vir Genea na hulle huis te neem. Op Maandag 23 Maart het pres. Cyril Ramaphosa die staat van inperking aangekondig en alle bewegings tussen verskillende provinsies verbied. Daar sou bloot in uitsonderlike gevalle permitte toegestaan word om na ʼn ander provinsie te reis. “Aanvanklik sou die inperking net 21 dae wees. Ek het vir Genea gebel en gesê sy moet maar rustig daar by oupa en ouma kuier, dit is in elk geval vir haar veiliger daar.

Toe die inperking egter nog verder verleng word, het dit haar begin vang. Sy was baie emosioneel en het baie huis toe verlang. Ons kleinste dogtertjie, Mika, is net 18 maande oud maar sy het aan hierdie kant net so baie verlang. Sy het elke dag voor Genea se kamerdeur gaan staan en gesê: “Sussie, Sussie.” Genea gebruik ʼn skedule ses medikasie en haar voorraad was nie genoeg vir die verlengde tyd van inperking nie. Die medikasie wat vir aandagafleibaarheid help, veroorsaak hoofpyn, naarheid en slaaploosheid indien jy sommer net ophou. Ons het uiteindelik dit reggekry dat ʼn apteek van Nelspruit dit na haar stuur.

Intussen het Rui alles in sy vermoë gedoen om ʼn permit in die hande te kry om haar te gaan haal. Nelspruit se polisie wou hom nie eers in die polisiekantoor toelaat nie en het gesê hulle kan net help met ʼn permit vir ʼn begrafnis. Dieselfde het by Witrivier se polisiestasie gebeur. Hy is ook magistraatskantoor toe, maar daar is aan hom gesê dat die kantoor nie oor die nodige vorms beskik om vir hom ʼn permit uit te reik nie.

ʼn Klerk daar het aan hom voorgestel dat hy haar geboortesertifikaat saam met hom neem asook ʼn knipsel uit die Gazette waarvan sy vir hom ʼn afskrif gegee het. Tog het sy benadruk dat dit nie ʼn waarborg is dat hy nie toegesluit gaan word nie.” Da Costa vertel dat hulp uiteindelik in die vorm van hulle huisdokter opgedaag het. Hy moes weer vir Genea sien om ʼn nuwe voorskrif vir haar te gee. Hy het ʼn brief geskryf en Rui is met die brief na die landdroshof in Nelspruit toe. Uiteindelik is daar op Dinsdag 28 April ʼn permit aan hom uitgereik en op Woensdag het hy vir Genea gaan haal.

Oupa Albert en ouma Belinda het haar weer tot in Piet Retief geneem aangesien hulle ook die nodige permit by hulle landdroshof gekry het. “Dit was glo ʼn blye weersiens toe Mika en Genea mekaar die eerste keer sien. Ek het nog gewerk en kon haar eers later die middag sien. Boonop sorg ek elke keer as ek van die werk af by die huis kom, dat ek eers gaan stort en my klere in die wasmasjien gooi om seker te maak ek stel nie my kinders in gevaar nie. Haar Nelspruit-ouma, wat bedags na haar en Mika kyk, was ook net so bly om haar weer te sien. As iets so ingrypend gebeur, besef jy opnuut hoe kosbaar jou kinders is. Dit was die moeilikste vyf weke van my lewe gewees,” sê Da Costa.


×