100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Innibos bied Augustus ‘n dubbeldosis Klassiek@Christies

Written by on July 12, 2022

Laeveldse musiekliefhebbers het al gewys hoeveel hulle klassieke musiek waardeer deur kaartjies na Innibos se klassieke konserte blitsvinnig uit te laat verkoop.
Dit was die geval tydens Bietjie-bietjie-Bos in Desember sowel as met die vorige Klassiek@Christies. Die Augustus aanbieding beloof om dieselfde roete te volg.
Op Saterdag, 20 Augustus gaan twee produksies die winterkoue by Klassiek@Christies kom verdryf.
Niël Rademan bring die oggend in Brunch with Brel die verskillende nuanses van onder andere Danie Bosman en Jaques Brel se musiek na vore in ’n nostalgiese musiekproduksie gestroop van alle pretensie. Hierdie vaardige trekklavierspeler span kragte saam met die Bolandse klaviervirtuoos Elna van der Merwe om ’n tikkie ou Europa na die Laeveld te bring.
Die aand is dié duo weer onder die kollig tesame met sopraan Lynelle Kenned in Musical Moments, ’n opvoering met grepe uit van die mees geliefde West End-musiekblyspele, onder meer Phantom of the Opera, Les Misérables, Sound of Music en West Side Story.

Inligting
Die vertonings vind op Saterdag, 20 Augustus, by Christies@ 32 on Russel plaas.
Brunch with Brel is om 10:30 en kaartjies kos R230.
Musical Moments is die aand om 18:30 en kos R285.
Kaartjies is by Quicket bekikbaar en sluit ’n ligte ete in. ‘n Kontantkroeg is beskikbaar.

Meer oor die kunstenaars
Niël Rademan is ’n veelsydige bariton en teaterpraktisyn wat reeds verskeie benoemings en toekennings gekry het vir onder meer die musikale verwerking en regie van verskeie ligte klassieke vertonings.
Elna van der Merwe het haar doktorsgraad in musiek aan die Universiteit van Stellenbosch behaal en is welbekend as begeleier vir verskeie solokunstenaars.
Lynelle Kenned, oud-student van die Operaskool van die Universiteit van Kaapstad, is al bekroon met die Naledi-, Fiësta- en Fleur de Cap-toekennings as operasangeres.


×