100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Groot planne vir poskantoor se nuwe dienste

Written by on October 12, 2021

Die poskantoor kan nie in sy huidige vorm voortbestaan nie, so dit is besig om te verander.
“Mense skryf nie meer briewe nie. Die fokus het verskuif na pakkies en ander dienste,” sê woordvoerder, Johan Kruger.
Vernaamste hiervan is die hernuwing van voertuiglisensies. Die poskantoor hoop om teen die einde van die maand die diens uit te rol wat mense in staat sal stel om op hul selfoon of rekenaar enige tyd hul lisensies te hernu en betaal.
Mense sal ook kan kies waar hulle dit wil afhaal of waarheen dit gepos moet word.
“Ons wil stelsels in plek kry dat jy net poskantoor toe kom wanneer jy wil, of driekwart van ‘n transaksie by die huis kan afhandel en net inkom vir die laaste stap,” sê Kruger.
Hulle is ook in onderhandelinge om die vier poskantore in die Laeveld wat toe is, te heropen. Komatipoort, Sonpark, Steiltes en West Acres is gesluit weens dispute met die gebou-eienaars oor agterstallige huurgeld.

Hy verduidelik dat die vier maande van die grendeltydperk wanneer hulle basies geen inkomste verdien het nie, die poskantoor se kontantvloei erg benadeel het en dat hulle nog nie herstel het nie.
“Ons is nie bekend vir baie goeie afleweringstandaarde nie, maar ‘n veldtog om dit te verander het vrugte afgewerp.”
So is die agterstand van 2,1 miljoen internasionale pakkies wat vroeër vanjaar by die lughawe opgehoop het, intussen uitgewis.
Planne is ook beraam om lang rye te verkort. So bepaal elke begunstigde se ID-nommer op watter dae hulle die R350-Covid-toelae af kan haal. Dít kan ook reeds by Pick n Pay en Boxer-winkels ontvang word. Hulle is in gesprek om dieselfde diens by SPAR en Kit Kat-winkels te bied.
“Die ander voordeel van mense betaal waar hulle bly, is jy spaar hulle die taxi-geld, en wanneer jy die geld spandeer waar jy woon, gee jy eintlik vir die plaaslike ekonomie so ‘n bietjie van ‘n hupstoot,” sluit Kruger af.


×